Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boere maak vordering in gesprekke met polisie

Organisasies wat by Agri SA geaffilieer is, sal oor die volgende paar dae landwyd hul stemme dik maak oor misdaad wat boerderygemeenskappe “daagliks terroriseer”.

Misdaad in landelike gebiede bly ’n groot kopseer vir die boerderygemeenskap van die land. Foto: Argief

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, sê die aksies sal onder meer wees om daarop aan te dring dat borgtog nie toegestaan word aan vermeende plaasaanvallers nie. Dit sal ook ter ondersteuning wees van die polisie se pogings om plaasaanvalle te bekamp.

Agri SA se aankondiging volg kort op die hakke van groot vordering wat dié organisasie sê hy in onderhandelinge met die polisie gemaak het oor toekomstige samewerking tussen die georganiseerde landbou en die polisie om misdaad in landelike gebiede hok te slaan.

Die organisasies wat aan die teenmisdaad-optredes sal deelneem, is Agri Noord-Kaap, Vrystaat Landbou en Kwanalu (KwaZulu-Natal), sê Esterhuyse.

Hy sê Agri SA ondersteun dié pogings om verdere bewustheid te skep en ook die aandag te vestig op die vernietigende uitwerking wat misdaad het op die boerderygemeenskap as produseerders van Suid-Afrika se voedsel, sowel as hul bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Daar sal ook nouer saamgewerk word om nuwe lewe te blaas in landelike veiligheidskomitees op plaaslike vlak.

In die onderhandelinge wat Agri SA met lt.genl. Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, en ander polisie-offisiere gehad het, is besluit die polisie en plaaswagte sal in die toekoms ’n groter sigbaarheid in die landelike gebiede hê om plaasaanvalle en -moorde te probeer voorkom.

Daar sal ook nouer saamgewerk word om nuwe lewe te blaas in landelike veiligheidskomitees op plaaslike vlak, terwyl organisasies soos Agri SA ook op die nasionale en provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture (Nat- en Provjoints) verteenwoordig sal word.

Genl. Khehla Sitole, kommissaris van polisie, het onlangs aangekondig die polisie sal taakspanne in sommige brandpuntgebiede ontplooi om misdaad te bekamp.

Op die vergadering tussen Agri SA en die polisie is onder meer ook ooreengekom om ’n meer doelbewuste poging aan te wend om reserviste onder boere en plaaswerkers te werf.

Die destydse ontbinding van die weermag se kommandostelsel het ’n veiligheidsvakuum in die landelike gebiede veroorsaak.

Brig.genl. Gerhard Kamffer, wat by die weermag se reserwemag betrokke is, het verlede naweek in ’n onderhoud met Rapport se Hanlie Retief gesê ’n beplanningsgroep in die weermag kyk tans na “hoe dit wat verlore gegaan het met die sluiting van die kommando’s” herstel kan word in ’n nuwe reserwemag-inisiatief, die Mzansi Home Guard.

Meer oor:  Agri Sa  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.