Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boere trek 2 vas wat bejaardes glo op plaas oorval

Boere in die Fochville-omgewing in Gauteng het Sondag twee vermeende plaasaanvallers met die hulp van ’n private helikopter vasgetrek.

Een van die rowers wat ’n bejaarde egpaar oorval en besteel het, is nog soek, het Gwen Renken van die plaaslike veediefstal-misdaadgroep (Stic) Maandagoggend gesê.

G.W.O. Molzahn en sy vrou, Marie, kon nie vir kommentaar bereik word nie omdat hul selfone in die rooftog gesteel is.

Volgens Renken is die egpaar in hul 80’s. Molzahn, wat met beeste boer, het Sondag omstreeks 11:30 buite die huis gesit.

Marie Molzahn Foto: Verskaf

“Die deur was nie gesluit nie,” sê Renken. “Drie gewapende rowers het hom oorval. Marie was in die egpaar se kamer. Die rowers het haar man na die kamer gedwing, sy hande en voete vasgebind en hom met ’n wapen gedreig. Die rowers het hom hardhandig behandel en in ’n stadium bo-op hom gesit. Hulle het geld gevra en die huis geplunder.”

Dis nie duidelik of Marie ook vasgebind is nie, maar sy het daarin geslaag om hulp te ontbied op ’n selfoon waarvan die rowers oënskynlik nie geweet het nie.

G.W.O. Molzahn Foto: Verskaf

Hulle het toe reeds Marie en haar man se selfone gevat. ’n Buurman het dadelik die nuus op plaaslike veiligheidsgroepe gedeel.

Renken sê die rowers het onder meer ’n rewolwer en geweer in die huis gevat. Hulle het van die gesteelde goedere op die Molzahns se bakkie gelaai.

“Ons is nie seker of hulle gesukkel het om die bakkie aan die gang te kry en of hulle besef het hulp is op pad en dat hulle in die bakkie vasgekeer gaan word nie. Die drie aanvallers het toe met die bakkie se sleutels weggehardloop.”

Boere was vinnig op die toneel en ’n private helikopter is ingespan om na die aanvallers te soek. Die verdagtes is uit die lug naby die N12-hoofweg gewaar. “Hulle het weer in die bosse verdwyn,” sê Renken.

“Twee verdagtes is later weer gesien, waarna die boere hulle gevang het. Die polisie het hulle daarna in hegtenis geneem. Geen van die gesteelde óf hul eie wapens is by die verdagtes gekry nie. Die derde aanvaller het weggekom. Dis ’n wonderwerk dat die egpaar ongedeerd is.”

Renken sê die polisie se honde-eenheid, asook ’n polisie-reservis, het gehelp soek na die aanvallers. Die polisiewoordvoerder in Fochville kon nie Maandagoggend vir kommentaar bereik word nie.

Die bakkie waarop van die gesteelde goedere gelaai is en net so gelos is toe die rowers weggehardloop het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Gwen Renken  |  G.W.O. Molzahn  |  Marie  |  Fochville-Omgewing  |  Bejaardes  |  Rooftog  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.