Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boervrou: Ek sou in my bloed verdrink

’n Vrystaatse boervrou wat deur haar aanvallers vir dood in ’n koelkamer agtergelaat is, sê ná 47 jaar se plaaslewe moet sy nou in ’n dorp gaan bly terwyl haar vermeende aanvallers op borgtog vrygelaat is.

“Ek is deesdae baie huilerig, ek hoop ek kan dit verwerk,” sê Wilma Swanepoel (66).

Swanepoel was Donderdag besig om uit haar plaashuis na ’n huis in Bothaville te trek.

Sy is op Sondag 22 Maart elf keer met ’n mes in haar longe gesteek en het byna 14 uur in ’n ongebruikte koelkamer gelê voordat haar dogter, Trysie Smit, op haar afgekom het.

Swanepoel is die middag omstreeks 17:45 by haar plaashek ingewag en deur twee mans oorval.

“Ek het wild baklei. As dit net een was, sou ek dalk ’n kans gestaan het.

Ek het besef ek moet regop sit, ek was besig om in my eie bloed te verdrink.

“Terwyl hy my met ’n mes steek, het een gesê hy soek tien miljoen, toe eis hulle weer diamante,” vertel sy.

Die mans het twee handwapens, kleingeld, buitelandse geldnote en antieke geld gebuit en Swanepoel in die koelkamer toegemaak.

“Ek het besef ek moet regop sit, ek was besig om in my eie bloed te verdrink.”

Sy kon die kabelbinders om haar gewrigte afgebreek kry, maar was te swak om op te staan.

“Ek het myself teen die binnekant van die koelkamer gestut om regop te bly.”

Phineas Mototo, een van die beskuldigdes, het glo aan die polisie gewys waar hy van die buit by sy suster se graf begrawe het. Foto: Verskaf

Swanepoel sê sy het soveel bloed verloor dat sy teen die wand “vasgeplak het”.

Die Maandagoggend omstreeks 07:30 het sy haar dogter na haar hoor roep en teen die kant van die koelkamer gekap.

’n Plaaswerker, Phineas Mototo, wat later saam met die twee aanvallers in hegtenis geneem is, het gehelp om Swanepoel in Smit se voertuig te laai.

Mototo het nog ’n week op die plaas gewerk en sy beweerde aandeel in die aanval het eers op die lappe gekom toe die ander werkers hom as medepligtige uitgewys het.

Hy het volgens die polisie aan hulle gewys waar die vuurwapens by sy suster se graf in die Kgotsong-woonbuurt begrawe is.

My hele lewe het verander en hulle weet waar die huis in die dorp is.

Swanepoel was agt dae in die hospitaal en het die afgelope tyd by haar dogter gebly, behalwe dié aande wat iemand saam met haar op die plaas kon oornag.

“Die aanklaer het nie met die borgtog-aansoeke gevra wat die impak van hierdie aanval op my is nie. Ek ly aan posttraumatiese stres en verduur nog pyn,” sê sy.

“My hele lewe het verander en hulle weet waar die huis in die dorp is.”

Swanepoel sê sy voel die staat moes meer moeite gedoen het om die aansoeke om borgtog teen te staan.

Mototo se twee medepligtiges is J.J Lesenyeho en Maseola Maseola.

Lesenyeho is in aanhouding omdat daar ander ondersoeke teen hom is, terwyl Mototo en Maseola op borgtog van R3 000 elk vrygelaat is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Vrystaat, sê mense moet onthou die landdros besluit of iemand borgtog moet kry en dat daar voorwaardes aan borgtog gekoppel is.

“Borgtog is nie die einde van die saak nie,” sê hy.

Meer oor:  Bothaville  |  Boervrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.