Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boervrou met Covid-19 veg teen plaasaanvallers

’n Boervrou van Vierfontein in die Vrystaat wat bewend en swak was weens Covid-19, het Vrydagaand vier skote afgevuur na plaasaanvallers wat haar slaapkamerdeur probeer oopbreek het.

Juanita Swanepoel het Vrydagaand vier skote afgevuur om plaasaanvallers te verjaag. Sy is ook verswak weens Covid-19. Foto: Verskaf

Juanita Swanepoel (48) en haar man, Gert (54), het onlangs siek geword aan Covid-19. Gert was in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp en sy was Vrydagaand alleen in hul plaashuis.

Die egpaar se geliefde Jack Russell-hondjie, Lollie, het by haar in die huis geslaap.

Swanepoel was Sondag nog baie emosioneel toe sy aan Netwerk24 vertel het hoe sy Vrydagaand die “grootste nagmerrie ooit” beleef het.

“Hulle kom vir jou as jy op jou swakste is.”

Sy sê die vorige week het mense die heiningdrade langs die hek op hul werf geknip en daar is spore op die werf gekry.

“Ons het op die kameras gesien drie voertuie het by ons plaasingang teen die grootpad hul ligte afgesit en omgedraai.”

Vrydagaand was Lollie heeltyd onrustig en het kort-kort saggies geblaf en met gespitste ore geluister.

“Ek het in ’n stadium gewonder of sy dalk vir Gert mis.”

Juanita Swanepoel het haar geliefde Lollie vir veiligheid in haar motor gaan sit, maar kort hierna gesien die hondjie is dood. Foto: Verskaf

Swanepoel sê sy was baie moeg, want sy het vir bykans ’n week nie geslaap nie. Sy is baie swak en gebruik suurstof omdat sy longontsteking het.

“Ek het Gert versorg en toe hy in die hospitaal opgeneem is, wou ek nie slaap nie omdat ek bang was die hospitaal bel en ek hoor nie my foon nie.”

Lollie het teen 22:50 hard geblaf en Swanepoel het gehoor hoe mense die veiligheidshekke in die huis oopbreek.

Gert Swanepoel saam met die egpaar se hondjie Lollie. Sy het waarskynlik van die gif ingekry wat die plaasaanvallers gebruik het om die groot honde buite op die werf te vergif en het ook gevrek. Foto: Verskaf

Sy het haar buurman Christiaan van der Westhuizen en Johan du Plessis van Bothaville se landelike beveiliging gebel.

Sy het haar pistool uitgehaal, gereed om haarself te beskerm.

“Toe begin hulle die konsertina-veiligheidsdeur by die slaapkamer breek en ruk aan die houtdeur.”

Ek kon hulle hoor en het aanhou vra wie daar is en gewaarsku dat ek gaan skiet.”

Swanepoel het twee skote met haar pistool afgevuur en toe dié staak, het sy ’n haelgeweer gevat en nog twee skote geskiet.

Dit het stil geword en die polisie en plaaslike boere het kort hierna by die huis opgedaag.

Die Swanepoels se slaapkamer is beveilig met ’n betondak en het nie vensters nie.

Ons het altyd gesê dit is nie óf dit gaan gebeur nie, maar wanneer dit gebeur, sê sy.

Juanita Swanepoel het vier skote deur ’n houtdeur geskiet om plaasaanvallers te verdryf. Foto: Verskaf

Die aanvallers het twee houtskuifdeure oopgedwing om in die huis te kom.

Sy sê die polisie was heelnag in die huis en sy het die oggend vir Lollie uitgevat om ’n draai te loop.

Vier van die Swanepoels se groot honde is op die werf vergif en ’n polisielid het haar gewaarsku dat daar orals gif rondlê.

Swanepoel sê sy het Lollie onmiddellik opgetel en in haar motor gaan sit.

“Toe ek weer by my kar kom, het Lollie dood gelê. Ons dink sy het dalk aan die dooie honde se braaksel gelek,” het Swanepoel huilend vertel.

Volgens die polisie op die toneel het die aanvallers in die huis gekom en klein pasteitjies uit Swanepoel se vrieskas in haar mikrogolf warm gemaak en gif daarin gesit om die honde te vergif.

Plaasaanvallers het die deur probeer oopbreek om by Juanita Swanepoel uit te kom. Foto: Verskaf

Dis nie duidelik waarom die aanvallers die honde sou wou doodmaak nadat hulle reeds toegang tot die huis gekry het nie.

Die aanvallers het weggehardloop en van die elektroniese toerusting wat hulle gebuit het, is in die veld gekry.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die polisie vermoed twee aanvallers was by die voorval betrokke.

Meer oor:  Vrystaat  |  Plaasaanvallers  |  Boervrou  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.