Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Boewe teiken ons Fords’

Die motorvervaardiger Ford kry al weer die wind van voor – hierdie keer omdat dit blykbaar verspot maklik is om by sommige van hul modelle in te breek.

Briony Simon se foto van haar en haar kollega se wit Ford Fiestas en die ander man se rooi Focus wat al drie Vrydagaand by Centurion Mall geteiken is. Foto: Facebook

Vier jaar gelede het die Amerikaanse vervaardiger onder kritiek deurgeloop nadat tientalle Ford Kugas sonder enige oënskynlike rede aan die brand geslaan het. Eienaars van die Ford-motors het destyds gesê dat die maatskappy te min te laat gedoen het om die probleem te ondersoek.

Nou word die maatskappye se beeld weer in die oë van verbruikers bedreig. Die ledetal van ’n Facebook-groep “My FORD was broken into South Africa” het die afgelope ses weke met 300% toegeneem, en ’n man van Pretoria wat Ford-motors se slotte aanpas om hulle veiliger te maak, sê hy kan nie voorbly met herstelwerk nie.

Nadat Briony Simon en twee ander Ford-eienaars verlede Vrydagaand almal op dieselfde tyd in die Centurion Mall in Pretoria geteiken is en daaroor op Facebook gekla het, het die reaksie haar heeltemal verstom. Haar inskrywing is reeds meer as 12 000 keer gedeel.

So lyk ’n slot wanneer die boewe met hom klaar is. Foto: Facebook

“My FORD was broken into South Africa”, wat al sedert 2017 bestaan, groei ook met rasse skrede – van 2 000 ses weke gelede tot meer as 8 000 op die oomblik. Dit blyk volgens die groep dat dit veral Ford Fiestas en EcoSports is wat deurloop onder die inbrake.

Simon sê sy en ’n kollega, wat albei ’n Ford besit, het Vrydag laatmiddag by Centurion Mall gaan inkopies doen. Toe hulle terugkom by hul motors, is daar by albei ingebreek – op presies dieselfde manier. ’n Entjie verder het ’n Ford Focus gestaan wat ook geteiken is.

Simon wil hê dat Ford eerstens moet reageer op mense se navrae en klagtes en tweedens die motors terugroep en die slotstelsels vervang.

;n Slot nadat Parker klaar die nodige aanpassings
'n Slot nadat Parker klaar die nodige aanpassings gedoen het.

“Hulle moet wakker word. Hoekom moes dit nou tot op dié punt kom? Mens kan nie eens meer winkels toe gaan nie!”

Matthew Parker van Johannesburg sê nadat daar twee jaar gelede by sy Ford Fiesta ingebreek is, het hy self ’n aanpassing aan die slot ontwerp om sy motor te beveilig.

Parker sê hy glo Ford se slotte se ontwerp laat skelms toe om ’n skroewedraaier in die slot te druk en die slotpennetjies met geweld te buig sodat die sentrale sluitstelsel outomaties oopspring. Boonop gaan die motoralarm nie eens af as jy dit op dié manier doen nie.

Parker het toe sy motor se slot aangepas om dit moeiliker te maak om die slot oop te dwing en sê hy het sedert November verlede jaar reeds tussen 350 en 400 Ford-motors se slotte op soortgelyke wyse verander.

“Net vanoggend het ek reeds sewe motors gedoen en doen deur die loop van die dag omtrent nog 12,” het Parker Vrydagoggend gesê.

Hy vra R250 per aanpassing.

Ford se woordvoerder, Minesh Bhagaloo, het nie op enige van Rapport se spesifieke vrae oor dié probleme gereageer nie, maar wel erken dat bykomende “veiligheidsoplossings” vir ouer Fiesta- en EcoSport-modelle ondersoek word.

“Ons sal binne ’n gepaste tyd aan die eienaars terugvoering gee.” Ford het bygevoeg dat hul klante se veiligheid van die “uiterste belang” is.

Kapt. Kay Makhubele, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, sê hulle het nie die afgelope maand enige toename in inbrake by Ford EcoSports of Fiestas in Gauteng bespeur nie.

Meer oor:  Ford
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.