SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Bonnievale: Dogter wil nie meer weet oor pa se moord

Annelie Wessels (23) het in trane vertel van haar ma se beserings nadat vier mans haar ouers, Tool en Liezel Wessels (albei 55), vroeg Maandagaand op hul plaas naby Bonnievale aangeval en haar pa vermoor het.

“Ek wil nie die besonderhede weet nie. Ek het vir almal gevra om nie vir my te sê nie,” het Annelie Dinsdag gesê.

Tool Wessels (55) en sy gesin, Jana (20), Annelie (23) en Liezel (55). Foto: Verskaf
Ek wil nooit teruggaan na die huis toe nie. My ma wil ook nie hê ons moet teruggaan nie.

Sy en haar suster, Jana (20), wat albei aan die Universiteit Stellenbosch onderskeidelik aan ’n M-graad in BCom werk en BRek studeer, het later die aand van Stellenbosch na Worcester gery nadat hul ma van ’n hospitaal in Robertson na Worcester oorgeplaas is.

Volgens Annelie het haar ma – vermoedelik in die tyd toe vier mans hulle op hul plaas Kapteinsdrif naby Bonnievale gyselaar gehou het – van hul huis se rekenaar af e-posse na verskeie mense gestuur.

“Die e-posse het lank geneem om deur te kom, maar toe ek dit gekry het, het ek die polisie gebel en hulle was toe bewus van die situasie,” het sy emosioneel vertel.

Die susters sal vir die res van die week by vriende in Worcester bly.“Ek wil nooit teruggaan na die huis toe nie. My ma wil ook nie hê ons moet teruggaan nie,” het sy gesê.

Haar ma, wat in die borskas gesteek is, kon daarin slaag om van die plaas af te vlug en het na die bure gery en die polisie ontbied.

Sy is later, toe sy reeds in die hospitaal was, van haar man se dood ingelig. Hy is sowat 200 m van die huis af gevind.

“Ek dink my ma het geweet, maar ons het eers later die aand met haar oor my pa gepraat.”

“Dit voel glad nie werklik nie,” het sy gesê.

Intussen het Agri Wes-Kaap met skok en hartseer van die moord kennis geneem.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê pres. Cyril Ramaphosa sal ernstig oor sy nuwe kabinet moet besin.

“Die landboubedryf kan nie langer bekostig dat ministers en instellings, wat belas is met veiligheid, nie die landelike veiligheidsplan implementeer en produsente en hul plaaswerkers se lewens daagliks bedreig word nie.”

Hy het sy meegevoel namens Agri Wes-Kaap betuig en wens die Wessels-gesin ’n spoedige herstel toe.

Meer oor:  Tool Wessels  |  Liezel Wessels  |  Bonnievale  |  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.