Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Booth-aanval: Lasbriewe vir 2 uitgereik

Lasbriewe is Vrydag in die landdroshof in Kaapstad uitgereik vir twee van die aangeklaagdes wat in April na bewering by die aanval op die plaaslike prokureur William Booth betrokke was.

Ebrahim Deare (36) en Igsaan Williams (57), wat altwee in aanhouding is, is nie na die hof gebring nie. Geen redes hiervoor is aan die hof verskaf nie.

Die ander drie wat saam met hulle in hegtenis geneem is, Kauthar Brown (35), Riyaad Gesant en Brown se suster, Kim Smith (32), het wel in die hof verskyn.

Die hof is Vrydag meegedeel dat Brown, Deare, Gesant en Williams op 4 Junie aansoek om borgtog wil doen.

Kauthar BrownFoto: Facebook

Smith is reeds op 15 Mei op borgtog van R5 000 vrygelaat.

’n Prokureur van Regshulp SA wat vir Brown, Deare, Gesant en Williams verskyn, het aan die hof gesê sy het nog nie kans gehad het om met die vier te konsulteer nie. Sy het dus versoek dat die saak tot 4 Junie uitgestel word.

Die vyf is op die aand van 6 Mei in Woodstock in hegtenis geneem. Sewe mense is aanvanklik in hegtenis geneem, maar twee is intussen vrygelaat.

Die inhegtenisnemings was skaars vyf uur nadat kol. Eddie Clark, die ondersoekbeampte, foto’s uitgereik het van twee van die verdagtes en ’n wit Hyundai Creta wat glo in die aanval op Booth gebruik is.

Ebrahim DeareFoto: Facebook

Lede van die polisie in Woodstock se eenheid vir sigbare polisiëring het die voertuig die Woensdagaand by ’n vulstasie opgemerk. Die bestuurder en sy passasier, ’n vrou, is daar in hegtenis geneem.

Dit het die polisie gelei na ’n huis in Argylestraat, waar die twee mans op die foto’s en een ander in hegtenis geneem is.

Twee gemaskerde mans het op Donderdag 10 April omstreeks 07:30 op Booth geskiet toe hy in die motorhuis by sy huis gestaan het.

Tussen vier en vyf skote is glo deur die een deur van sy Porsche Cayenne geskiet. Hy is ongedeerd en is sedertdien onder polisiebewaking.

Die vyf staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en aanklagte wat met die oortreding van die regulasies onder die Rampbestuurswet verband hou.

Brown, Deare, Gesant en Williams word in die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Brown is in die vroue-afdeling. Smith is uit op borgtog en onder huisarres.

Meer oor:  William Booth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.