Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Booth sê hy weet wie sit agter sluipmoordpoging

William Booth, ’n bekende Kaapse strafreg-prokureur, het glo aan speurders gesê hy vermoed ’n berugte persoon in die Kaapse onderwêreld sit agter die aanslag op sy lewe.

Booth het Donderdagoggend ’n sluipmoordaanval by sy huis in Higgovale oorleef.

Twee gemaskerde mans het glo kort ná 07:00 op Booth geskiet. Sy voertuig is glo vier of vyf keer getref.

Hy is ongedeerd.

Volgens polisiebronne het Booth in ’n verklaring aan die polisie gesê hy het verlede week ’n kliënt van hom aangeraai om ’n saak van intimidasie, ontvoering en afpersing aanhangig te maak teen ’n vennoot van die persoon wat hy nou verdink.

William Booth
Die prokureur William Booth het Donderdagoggend 'n sluipmoordpoging oorleef. Sy motor is vier of vyf keer raakgeskiet by sy huis in Higgovale, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Netwerk24 weerhou om regsredes die naam van die persoon wat Booth beskuldig het.

Die klagtes teen die vennoot is egter Maandag in die landdroshof in Kaapstad teruggetrek.

Die persoon wat deur Booth verdink word, het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy ken hom nie, maar hoop dat hy (Booth) “oukei” is.

Booth is die tweede Kaapse prokureur wat die afgelope twee maande ’n aanslag op sy lewe oorleef het.

William Booth
Polisielede praat met Booth op die misdaadtoneel in Higgovale, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

’n Gemaskerde man het Jakes van der Merwe (53), ’n siviele prokureur, ook op 12 Februarie voor sy huis in Constantiastraat, Higgovale, geskiet. Hy is in die nek gewond terwyl hy in die straat waar hy woon in sy voertuig gesit het.

Van der Merwe het toe gesê hy weet nie hoekom iemand hom sou wou aanval nie omdat hy nog nooit strafregsake behartig het nie.

Niemand is nog in verband met die aanval op Van der Merwe in hegtenis geneem nie.

Sy huis is sowat vyf minute se ry van Booth se huis in dieselfde voorstad.

Hulle is egter nie die enigste Kaapse regsgeleerdes op wie se lewens daar die afgelope paar jaar aanslae was nie.

In November verlede jaar het onbekende mans adv. Vernon Jantjies in Lentegeur in Mitchells Plain doodgeskiet.

Jantjies was omstreeks 21:30 by ’n vulstasie toe daar op hom losgebrand is. Hy is geskiet toe hy by die vulstasie se winkel uitstap. Hy is op die toneel dood. Niemand is nog vir sy moord aangekeer nie.

In Oktober 2018 is adv. Pete Mihalik doodgeskiet toe hy sy kinders by hul skool gaan aflaai het.

Drie mans is in verband met sy moord aangekeer. Die prokureur Noorudien Hassan is in 2016 verskeie kere geskiet terwyl hy voor sy huis in Lansdowne in ’n voertuig gesit het. Ook niemand is nog vir sy moord in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  William Booth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.