Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boshof-moorde: Leraar vertroos met Dawid, Goliat
Sakkie (67) en Ina (62) van der BergFoto: Verskaf

Ds. Andreas van Rooyen, NG-predikant van Boshof, het Sondag die verhaal van Dawid en Goliat gebruik om lidmate te vertroos ná die dubbele moord op Sakkie (67) en Ina (62) van der Berg.

Die egpaar is vermoedelik Vrydagmiddag oorval en die aand vermoor op die plaas Blaauwbos-wes naby Boshof.

Van Rooyen sê Sakkie was ’n saggeaarde en rustige mens “wat ons in September verlede jaar vir twee jaar verkies het om ouderling van ’n wyk binne die gemeente te wees”.

“Dit wys op die vertroue wat die gemeente in hom gehad het. Hy het sy plaaswerkers goed hanteer en sou nie ’n vlieg seermaak nie.”

Hy sê Ina was ook aangenaam en saggeaard. “Hulle was stil en private mense, maar daar is ook niks hiermee verkeerd nie.”

Seun Oosthuizen, ’n buurman, het Saterdagoggend op die egpaar se bebloede lyke in hul plaashuis afgekom.

Oosthuizen is deur een van Sakke se werkers gekontak omdat Sakke hom sou oplaai maar nie opgedaag het nie. Die werker het Sakkie gebel, maar dié het nie sy telefoon geantwoord nie.

Oosthuizen sê die huis was in ’n warboel soos dit deurmekaar gekrap is en Sakke se bakkie was weg.

Van Rooyen sê die getraumatiseerde gemeenskap voel nou “senuagtig”, want dit is die eerste moord die afgelope tien of 15 jaar in die gemeente. “My boodskap aan die gemeente Sondag kom uit 1 Sam. 17:40-53: Plaas jou hoop en vertroue op die Here wanneer jy oorweldig voel: die verhaal van Dawid en Goliat.”

Van Rooyen sê hy het telefonies met ’n dogter en suster van Sakkie gesimpatiseer. “Hartseer gemeentelede bly nou in huise en vertroos mekaar totdat almal in Boshof tot verhaal kom. Dít is wat aan die gang is. Mense is geskok en soek vertroue by die Here.”

Mense is geskok en soek vertroue by die Here.

Een van die Van den Bergs se skoonseuns, Gavin Kruger, was Sondag saam met sy vrou, Liezel, en twee kinders op pad na Boshof.

“Ons weet min, maar gaan uitvind wat gebeur het. Ons weet net die moorde moes in die omgewing van 19:00 Vrydagaand op die plaas gebeur het.”

Kruger het gesê die egpaar se ander twee dogters, Doreen en Nicolene, is ook met hul mans op pad na Boshof.

“Ons sal mekaar almal daar kry. Ons weet nie wat gebeur het nie. Dit is ’n bietjie vaag,” het hy gesê.

Susna Botha, buurvrou van die vermoorde egpaar, het gesê sy is stomgeslaan. “Géén woorde kan moontlik die emosie omvat wat mens ervaar nie. Behalwe kommer en vrees vir onsself en ons gemeenskap is ons gedagtes vasgevang by oom Sakkie en tannie Ina se kinders en kleinkinders. Al wat ons kan doen, is om vir hulle te bid en aan te hou bid in dié tyd.”

Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, het Saterdag gesê die moord op die Van der Berg-egpaar is ’n bewys dat plaasmoorde in Suid-Afrika buite beheer is.

“Daar was volgens TLU-syfers reeds meer as 60 plaasmoorde en 217 plaasaanvalle op plase net in die eerste helfte van 2019.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het gesê plattelandse veiligheid en veral plaasaanvalle het ’n krisis geword. “Dit is duidelik dat die polisie die oorlog teen misdaad verloor het.”

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het gesê hongersnood is die land se voorland as voortgegaan word om kundige boere op plase te vermoor en die ekonomie só te ontwrig.

Die Van den Bergs word ook oorleef deur vier kleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.