“Sakkie en Ina het hul lewe daaraan gewy om plaaswerkers op te hef en was die sout van die aarde,” sê die Van der Berg-egpaar se vriend, Sakkie Nel van Upington in die Noord-Kaap.
Nel en sy vrou, Marlien, was sedert 1988 huisvriende met die Van der Bergs toe hulle in Kroonstad in die Vrystaat gebly het.

Sakkie Nel is hier tussen die Van der Berg-egpaar, Sakkie en Ina.
“Hy was my beste vriend ooit en vir ons almal ’n voorbeeld van wat ’n mens kan vermag,” sê Nel oor Van der Berg (67).
“Vir ’n man wat nie hande gehad het nie het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie.”
Van der Berg het as jong man sy hande in ’n werksongeluk verloor, maar hy kon enigiets doen met ’n stukkie vinger aan die een hand – hy het selfs geskilder en kos gemaak.
Van der Berg en sy vrou, Ina (62), is Vrydagaand op ’n plaas tussen Dealesville en Boshof in die Vrystaat vermoor.
Van der Berg het sedert die vroeë 1980's by die destydse Landelike Stigting gewerk en was ’n spesialis op die gebied van mensehulpbronne en die ontwikkeling van mense, sê Nel.

Die Van der Bergs en hul huisvriende, die Nel-egpaar. Sakkie van der Berg sit voor met links agter Marlien Nel, Ina van der Berg en Sakkie Nel.
Van der Berg het twee silwermedaljes in die Comrades-marathon verwerf, asook ’n hele paar naskoolse kwalifikasies in mensehulpbronne.
“Hy was ’n regte platjie en kon lekker stoute grappe vir my stuur. Ons het mekaar oor en weer Isak en Sakkie genoem,” sê Nel.
“Ek het onlangs by hulle oorgeslaap. Hy het dit vreeslik geniet om op die plaas te bly.”
Hy het sommer vir die lekkerte uie en knoffel geplant en vir elke kleinkind ’n skaap aangehou, sê Nel.
“Toe Nicolene, een van hul dogters, ons Saterdag bel, het ek gedink daar is fout omdat hy nie gesond was nie, maar dít het ons nie verwag nie. Ek weet nie of die liewe Vader ’n mens se strepie op so ’n manier sou trek nie,” sê Nel.

Ina en Sakkie van der Berg wat op ’n plaas tussen Boshof en Dealesville vermoor is.
Joa Bekker, oudkollega van Van der Berg by die Landelike Stigting, sê mensehulpbronne was Van der Berg se spesialisgebied.
Toe die stigting tot niet gemaak is, het Sakkie en Ina hulle op opheffingswerk en die ontwikkeling van die gemeenskap op plase en in townships toegespits, sê Bekker.
Barry Cronjé, hoof van 3L Development, sê die egpaar het vir sy maatskappy gewerk. 3L Development doen gemeenskapsontwikkelingsprojekte in die Noord-Kaap.
Hulle het tussen Kimberley en Boshof gependel.
Van der Berg was ’n opgeleide psigometris.
“Ons was soos broers vir mekaar,” sê Cronjé.
“Ongeag of hulle ryk of arm, wit of swart was, het Sakkie mense altyd met die grootste respek behandel. Vir my is die hartseerste dat twee sulke saggeaarde mense op die wreedste manier denkbaar vermoor is.”