Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bosniese moordenaars glo gereël om offisiere te vermoor
Lt.kol. Charl Kinnear voor die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Facebook

’n Vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld het glo die dienste van vier Bosniese sluipmoordenaars in November 2019 bekom om vier Wes-Kaapse polisie-offisiere te vermoor.

Dié inligting het ’n polisiebeampte verbonde aan die Wes-Kaapse teenbende-eenheid op 13 November 2019 aan maj.genl. André Lincoln, hoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, in ’n amptelike verslag verskaf.

Die vier offisiere op die vermeende moordlys was genl.maj. Jeremy Vearey, genl.maj. André Lincoln, lt.kol. Charl Kinnear en kapt. Althea Jaftha.

’n Dag nadat die moordlys aan Lincoln bekend gemaak is, is lt.kol André Kay (52) op 14 November 2019 by sy huis in 11de Straat, Bishop Lavis doodgeskiet.

Kay was verbonde aan die polisie se eenheid wat die bedrywe vir drank, vuurwapens en tweedehandse goedere reguleer.

Die vermoede is dat die aanslag op Kay se lewe eintlik vir Kinnear bedoel was. Sy straat is sowat 850 m van Gearingstraat, Sidneyvale in Bishop Lavis, waar Kinnear tot met sy moord op 18 September vanjaar gewoon het.

Kinnear, speurhoof van die teenbende-eenheid, is voor sy huis in Gearingstraat doodgeskiet terwyl hy vir sy oudste seun gewag het om sy voertuig uit die oprit te trek.

Luidens inligting moes die Bosniese sluipmoordenaars handgranate na die huise van Lincoln en Kinnear gooi om hulle uit die weg te ruim. Dit moes glo dien as ’n boodskap aan enige ander polisielid wat die vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld wou ondersoek.

Lincoln het volgens inligting van bronne op 15 November 2019 opdrag gegee dat lede van die teenbende-eenheid statiese pligte by Kinnear se huis moet verrig.

Hy het dieselfde dag ook die inligting oor die doodsdreigement by lt.genl. Sindile Mfazi, wat toe die waarnemende polisiehoof van die Wes-Kaap was, en aan Vearey, die adjunk-kommissaris belas met speurdienste, aangemeld.

Ses dae nadat Lincoln die dreigement aan Mfazi gerapporteer het, het hy (Mfazi) ’n e-pos aan Vearey, Lincoln, Kinnear en Jaftha gestuur waarin hy hulle ingelig het van ’n vergadering tussen die vyf van hulle. Dit was op 21 November 2019.

Volgens inligting was die vergadering vir 22 November om 08:00 gereël. Die oggend van die beoogde vergadering is die vier polisie-offisiere, Vearey, Lincoln, Kinnear en Jaftha, per e-pos ingelig dat die vergadering gekanselleer is. Geen rede is verskaf nie.

Lede van die teenbende-eenheid, wat statiese dienste by Kinnear se huis verrig het, het die volgende dag, op 23 November 2019, ’n verdagte man deursoek wat naby Kinnear se huis rondgedrentel het.

’n Handgranaat is by hom gevind en hy is in hegtenis geneem.

’n Dag ná Kinnear se moord het sy weduwee, Nicolette Kinnear, gesê dat Donderdag 19 Desember 2019 die laaste dag was waarop hulle polisiebeskerming geniet het.

Volgens haar het die polisiebeamptes nog die Donderdagaand daar diens gedoen, maar die Vrydagoggend, 20 Desember 2019, het niemand opgedaag nie.

Sy het gesê geen rede is verskaf oor hoekom die beskermingsdiens onttrek is nie. “Ek weet Charl het gevra, maar tot vandag toe weet ek nie wie die opdrag

gegee het of hoekom nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, het die Saterdag ná Kinnear se dood aan Nicolette gesê dat hy ’n ondersoek gaan las oor hoekom die Kinnear se beskerming gestaak is. Volgens hom sou die ondersoek binne sewe dae afgehandel wees.

Dit lyk egter nou ná bykans twee maande ná die moord op Kinnear dat die polisie hul voete sleep om die redes vir die onttrekking van die beskerming te ondersoek.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê dat die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, ’n voorlopige verslag ontvang het en dat hy na aanleiding van aanbevelings in die verslag gevra het dat nog ’n interne ondersoek gedoen word.

Volgens Naidoo is die interne ondersoek nou aan die gang.

Hy het ook gesê dat hy geen kennis van Mfazi se e-pos dra nie. “Maar ek is seker as daar so ’n e-pos is, sal dit in die verslag uitgekom het.”

Netwerk24 het kort ná Kinnear se dood berig dat Mfazi

volgens betroubare bronne die besluit geneem het dat die beskerming aan Kinnear en sy gesin onttrek moet word.

Mfazi het by navraag ontken dat hy enigiets met dié besluit te doen gehad het.

Hy het toe gesê: “Wie is die man van wie jy praat? Waarvan praat jy? Ek werk by nasionaal, ek weet nie wat in die Wes-Kaap aangaan nie.”

Hy het ook ontken dat hy in die tydperk toe die beskermingsdiens aan Kinnear onttrek is, die waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof was.

Mfazi is in Julie 2019 as waarnemende Wes-Kaapse polisiehoof aangestel nadat die vorige Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Khombinkosi Jula, na KwaZulu-Natal terugverplaas is.

Hy het eers in Januarie 2020 die leisels aan Jula se opvolger, lt.genl. Yolisa Matakata, oorgegee.

* Nog net een mens is tot dusver in verband met Kinnear se moord in hegtenis geneem. Wes-Kaapse speurders het Zane Kilian, ’n voormalige beroepsrugbyspeler van Springs in Gauteng, op 22 September by sy huis in hegtenis geneem.

Hy staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, die onwettige onderskepping van kommunikasie en bedrog. Die staat beweer dat hy Kinnear se selfoonsein sedert Maart vanjaar tot die dag van sy moord nagespoor het.

Kilian is intussen ook op aanklagte van sameswering tot moord en die onwettige onderskepping van kommunikasie in die saak van William Booth, ’n bekende Kaapse strafreg-prokureur, aangekla. Hy het glo ook Booth se selfoonseine nagespoor. Booth het op 9 April vanjaar ’n sluipmoordaanval op sy lewe oorleef.

Kilian verskyn Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad in verband met Booth se saak. Hy moet weer op 27 November in die streekhof in Bellville verskyn, waar sy regspan ’n gesamentlike borgtogaansoek in albei sake gaan bring.

Kinnear se moordenaar is nog soek.

Meer oor:  Jeremy Vearey  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.