Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brakpan-tragedie: Bewerings van molestering

’n Tienermeisie van Brakpan het blykbaar onthul dat sy gereeld deur ’n familielid gemolesteer word, voordat haar lyk, asook dié van drie van haar gesinslede, verlede Woensdag in hul huis in Brakpan aangetref is.

Lee-Ann Schwartz (16). Foto: Verskaf
Shereé Schwartz by haar sussie Lee-Ann en kleinboet Simeon soos hulle ’n aantal jare gelede gelyk het. Foto: Verskaf
Sandra Schwartz. Foto: Verskaf

Lee-Ann Schwartz (16) is op ’n rusbank in die sitkamer gekry. Die lyke van haar ma, Sandra (39), suster, Shereé (19), en kleinboet, Simeon (10), het ’n ent verder op twee matrasse op die vloer gelê. Simeon het ’n teddiebeer langs hom gehad.

Bure het vroeër vertel hoe Sandra se man, Johan, aan die skree gegaan het toe hy Woensdag 10 Julie, ná werk omstreeks 17:00, glo op hul lyke afgekom het. Dik rook het in daardie stadium by die huis uitgeborrel.

Almal buiten Shereé, wat in die lyf geskiet is, is met koeëlwonde in die kop aangetref.

Presies wat gebeur het, vorm deel van ’n polisieondersoek.

Betroubare bronne het aan Netwerk24 gesê daar was drama in die Schwartz-huishouding nadat Lee-Ann ’n familielid van molestasie beskuldig het.

Netwerk24 het ’n reeks WhatsApp-boodskappe gesien waarin Lee-Ann aan ’n vertroueling skryf: “Hy vat die heeltyd aan my en ek weet nie hoe om vir my ma te sê nie.”

Later skryf sy: “Hy sal maak asof hy my hand vryf dan dwaal dit.”

Dié boodskappe is aan die polisie oorhandig om hul ondersoek te ondersteun.

Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, het Donderdag die aantygings teen die familielid as “stories” afgemaak.

“Die forensiese ondersoek is nog aan die gang, en ons sal later meer besonderhede rondom die omstandighede van die voorval hê,” sê sy.

Die familielid, wie se naam op regsadvies weerhou word, het geweier om kommentaar te lewer.

Levina Britz (65), Sandra se ma, sê Lee-Ann het in Mei by haar huis, in South Hills, kom kuier waar sy in trane uitgebars het. Lee-Ann het glo aan haar ouma vertel dat sy gemolesteer word.

“Lee-Ann het my eenkant toe gevat en my alles vertel. Sy het gesê, Oumie, hy (die familielid) los ons nie uit nie,” het ’n emosionele Britz gesê.

“Ek het die familielid daaroor gekonfronteer. Hy het erken dat hy die lyn oortree het, en het toe geweldig begin huil,” beweer sy.

Volgens Britz is daar nooit ’n klag by die polisie oor die molestasie ingedien nie.

Chris Britz, Sandra se broer, sê Lee-Ann én Shereé het in Mei aan hom vertel dat die familielid hulle betas.

“Ek het gesê hulle moet ’n saak by die polisie gaan aanmeld, maar hulle wou nie, want hulle was bang. Ek kon hulle tog nie in die kar laai en dwing om dit te doen nie, al wou ek.

“Ek dink hulle het my vertrou omdat ek in die verlede teen hom opgestaan het,” sê hy.

Volgens Levina was sy die Woensdagoggend 10 Julie voor 06:30 by haar dogter se huis in Modderstraat. Sy het ’n ruk voor dit gereël om vir Sandra te kom kuier. Ná drie ure se gewag het sy toe weer gery.

“Die huis en die erf was doodstil. Voor een van die vensters het ’n kombers of ’n laken gehang sodat daar nie ingesien kan word nie,” sê sy.

Jan Symons, Sandra se swaer, het verlede week aan Netwerk24 gesê hy glo nie die gerugte dat Sandra haar kinders en toe haarself geskiet het nie.

“Die skoot is bo haar linkeroog toegedien, maar sy is regshandig. Dit maak nie sin nie,” het hy gesê.

Johan het sedert die voorval nog glad nie kommentaar in die media gelewer nie.

Meer oor:  Simeon  |  Shereé  |  Sandra  |  Lee-Ann Schwartz  |  Levina Britz  |  Brakpan  |  Molestasie  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.