Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brakpan-tragedie: Man was ‘heeldag by werk’

Johan Schwartz (41) het Woensdagmiddag vir Simeon, sy 10-jarige seuntjie, onder die koffietafel in sy uitgebrande sitkamer gekry. Die kind se lyk was binne-in ’n kombers weggesteek. Hy het steeds aan sy teddiebeer vasgeklou.

Sandra Schwartz (39)

Johan het Shereé, sy 19-jarige dogter, op die leunstoel aangetref. Dit het vir hom gelyk asof sy TV gekyk het toe sy vermoor is.

Hy het Sandra, sy 39-jarige vrou, en Lee-Ann, sy 16-jarige dogter, se lyke bymekaar op die vloer gevind. Sy vuurwapen het langs Sandra gelê.

Die polisie vermoed die vuurwapen, ’n 9 mm-pistool, is gebruik om die familie uit te wis. So vertel Samantha Labuschagne, Schwartz se werkgewer die afgelope 22 jaar by die Medley House-gastehuis in Brakpan.

Simeon Schwartz (10)

“Hy het my histeries gebel met die nuus dat sy hele gesin uitgewis is. Hy was rasend en hy kon skaars praat,” sê Labuschagne. Sy vertel Schwartz het die hele dag by die gastehuis gewerk behalwe toe hy saam met haar verloofde na ’n hardewarewinkel gery het om hardeware te gaan oplaai.

“Sy vrou het hom een keer gebel terwyl hy saam met my verloofde in die motor was. Hulle was liefdevol met mekaar oor die foon en daar was geen rede om te dink dat ’n tragedie later die middag by die huis sou afspeel nie,” sê Labuschagne.

“Johan is ’n lojale, stabiele en liefdevolle mens. Hy lewe vir sy familie. Dit is vir hom verskriklik moeilik om te aanvaar dat sy gesin uitgewis is,” sê sy.

Shereé Schwartz (19)

Volgens haar het Johan om 17:25 met ’n werksbakkie huis toe gery en ontdek die huis is aan die brand. Hy het probeer om in die erf in te kom, maar volgens Labuschagne was die een hek se slot met ’n ander slot vervang en die sleutel in die ander hek se slot was afgebreek.

Labuschagne het om 18:00 van die tragedie gehoor toe ’n buurman van die Schwartze haar ontbied het.

“Dit is onmoontlik dat hy sy eie huis aan die brand kon steek,” sê Labuschagne. Sy sê Sandra was ’n eenkant-mens wat sy net van werksgeleenthede geken het. Sy was altyd vriendelik, maar afgetrokke, sê Labuschagne.

Volgens Labuschagne het sy en haar verloofde vir die polisie kringtelevisiemateriaal beskikbaar gestel wat volgens haar wys dat sy gesin reeds dood was voordat hy by die huis aangekom het.

Lee-Ann Schwartz (16)

Sy sê hulle was ’n gelukkige gesin, maar hulle het die laaste tyd probleme gehad met Lee-Ann wat die verkeerde soort maats gemaak het. Haar ouers het toe besluit om haar uit die skool te haal en tuis te onderrig.

Jan Symons, Sandra se swaer, het Vrydag aan Netwerk24 gesê hulle glo nie dat Sandra haar kinders en toe haarself geskiet het nie.

Die polisie sê hulle het drie moord-dossiere en ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Dit dui daarop dat hulle meen drie van die gestorwes is vermoor en dat die skieter toe sy/haar eie lewe geneem het.

Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, sê die ondersoek is nog in die beginstadium en dit sou voortydig wees om enige gevolgtrekkings te maak.

Meer oor:  Johan Schwartz  |  Lee-Ann Schwartz  |  Brakpan  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.