Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brakpan-tragedie: My engelkind sou nooit haar kinders skiet

Haar begrafnisklere is “pikgitswart”.

Dit hang oor die kasdeur, reg vir Levina Britz om aan te trek wanneer haar dogter en drie kleinkinders Dinsdag in vier spierwit kiste begrawe word.

Britz kan haar glad nie daarmee versoen dat haar dogter, Sandra Schwartz (39), moontlik haarself en haar drie kinders doodgeskiet het nie.

“Dit kan eenvoudig nie die waarheid wees nie. Sandra sou nooit haar kinders enige skade doen nie, sy was ’n liefdevolle mens,” sê Britz.

Levina Britz, ma van Sandra Schwartz (39) wat Woensdag 10 Julie dood saam met haar drie kinders aangetref is, veg teen die trane. Foto: Deaan Vivier

Shereé (19), Lee-Ann (16) en hul boetie Simeon Schwartz (10) is op Woensdag 10 Julie met koeëlwonde in hul huis in Sallies Village, Brakpan, aangetref. Sandra het ’n koeëlwond aan die kop gehad. Langs haar het haar man, Johan Schwartz (41), se 9 mm-pistool gelê, sê die polisie.

Schwartz het volgens ’n polisieverklaring op die lyke afgekom toe hy van die werk af by die huis aangekom het.

“Ek het agt kinders gehad, nou het ek net sewe. Een van my mooiste blommetjies is van my weggeruk,” sê Levina Britz, ma van Sandra Schwartz. Foto: Deaan Vivier

’n Buurman, wat anoniem wil bly, het aan Netwerk24 gesê Johan het bly skree dat “sy (Sandra) almal uitgehaal het”.

Britz het kort hierna ’n oproep ontvang: “Tannie, sorg dat jy gou kom, iets vreesliks het gebeur!”

“Toe het ek geweet my kind is dood,” het Britz by haar huis in South Hills, Johannesburg, aan Netwerk24 gesê.

Sandra was haar en haar oorlede man, Nicolaas, se liefdesbaba – hul middelste van agt kinders.

“Sy was so ’n ou klein babatjie gewees, fyn ou dingetjie,” sê Britz.

“Ek en my man het al ons kinders – ook vir Sandra – streng, dog liefdevol grootgemaak.”

Dit is een van die redes hoekom sy daarvan oortuig is dat Sandra nie haar kinders sou kon doodmaak nie.

Britz was mal oor haar kleinkinders, “almal engelkinders”, sê sy.

“Simeon was die liefdevolste kind, nooit ’n bakleierige kind nie en altyd die een wat vrede probeer maak het.”

Hy is saam met sy twee sussies tuis onderrig.

Levina Britz in haar huis in die suide van Johannesburg. Sy is daarvan seker dat haar dogter, Sandra Schwartz, nie haar drie kinders en toe haarself doodgemaak het nie. Foto: Deaan Vivier

Volgens Britz was hy nooit na ’n skool gestuur nie.

As ouma het sy twee maal per week kospakkies en ander benodigdhede vir die kinders gaan aflaai.

Verlede Woensdag se pakkie was onafgelewer en sy het dit intussen weggegee.

“Dit is Sandra s’n, ek kon dit nie oor my hart kry om dit te gebruik nie,” sê Britz en veg hard teen die trane.

Sy was Woensdag by Modderstraat 3 om dit af te lewer.

“Dit kan eenvoudig nie waar wees nie,” sê Levina Britz. Een van haar dogters, Sandra Schwartz (39), is Woensdag dood aangetref saam met haar drie kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10). In hierdie stadium word daar vermoed dat Sandra moontlik die sneller getrek het.Foto: Deaan Vivier

Britz het vergeefs buite gewag.

Eers het sy vir Sandra gebel en toe die twee meisies. Niemand het geantwoord nie.

“Ek onthou dit was vir my vreemd dat ’n vuil laken voor die deur gehang het en 'n mens nie in die huis kon sien nie,” sê Britz.

Sy het omgedraai en huis toe gegaan. Dalk is hulle dorp toe en sy sal later terugkom, het Britz gedink.

“Min het ek geweet! Vandag wil my binneste breek. Ek gaan nooit weer my kind sien nie,” sê Britz.

“Sy was ’n pragtige, verfynde mens. Eerlik, opreg en lojaal.”

Sandra en haar drie kinders se begrafnis vind op Dinsdag 23 Julie om 12:00 vanuit die NG gemeente Greymont in Randburg plaas. Hulle sal langs mekaar in die Wespark-begraafplaas begrawe word, naby hul oupa, Britz se oorlede eggenoot. Simeon was Johan Schwartz se seun en die twee dogters kom uit ’n vorige verhouding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.