Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brakpan-tragedie: Steeds geen antwoorde
Sandra Schwartz.Foto: Facebook

Die polisie ondersoek glo huisroof as ’n motief in die gesinstragedie waartydens Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders met ’n vuurwapen uitgewis is.

Die ma van Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10) is op 10 Julie saam met haar kinders dood aangetref in hul huis in Sallies Village in Brakpan.

’n Ingeligte bron sê die polisie het afgekom op ’n koeël wat glo naby die agterdeur geval het, wat die moontlikheid van ’n aanvaller beteken.

Sandra het ’n koeëlwond gehad in die kop, terwyl Shereé een keer in die kop en een keer in die bors geskiet is. Lee-Ann is glo onder die ken geskiet.

Johan Schwartz (41), Sandra se man, het op Woensdag 10 Julie omstreeks 17:00 op sy vrou en kinders se lyke in hul huis in Modderstraat afgekom toe hy van die werk af kom.

Bure het Johan benoud gehoor skreeu en gesien hoe rook by die huis uitborrel toe hulle opdaag om hom te help.

Johan se 9 mm-pistool is langs Sandra se lyk gekry.

Die foto van Shereé Schwartz, haar sussie Lee-Ann en kleinboet Simeon is ’n aantal jare gelede geneem. Al drie kinders is op 10 Julie dood in hul ouerhuis in Brakpan aangetref.

Netwerk24 het vroeër met van die bure gepraat in Modderstraat, maar niemand het enigiets vreemds gehoor nie.

’n Persoon wat dié dag op die toneel was, het intussen aan Netwerk24 bevestig dat veiligheidskameras in Modderstraat nagegaan is.

Geen verdagte voertuie of persone is opgemerk nie, het die bron gesê.

Nou, meer as twee maande ná die voorval, het die raaisel oor die omstandighede van hul dood verder verdiep.

Sandra se familie glo steeds nie dat sy eers haar kinders en toe haarself geskiet het nie.

Hulle wag ook vir die polisie om die saak klaar te ondersoek, in die hoop dat van hul vrae beantwoord sal word.

Kapt. Pearl van Staad, ’n polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag gesê die ondersoek is beslis nie afgehandel nie.

“Sake soos dié kan lank neem om te ondersoek, want daar is heelwat forensiese verslae wat eers afgehandel moet word. En dit duur nog langer, want daar is vier slagoffers,” sê Van Staad.

Sy kon ook nie dadelik bevestig of die ondersoek enigsins fokus op bewerings dat Lee-Ann deur ’n familielid gemolesteer is nie.

Lee-Ann het glo kort voor die treurspel WhatsApp-boodskappe daaroor aan ’n vertroueling gestuur. Die polisie het ook ’n brief in die huis gevind waarin Sandra glo van die molestering melding gemaak het.

Wat die brief betref, het Van Staad bevestig dit was handgeskrewe, en dat dit moeilik sal wees om vas te stel of dit wel Sandra se handskrif is.

Meer oor:  Sandra Schwartz  |  Johan Schwartz  |  Brakpan  |  Gesinsmoord  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.