Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brandstof-diefstal: Nat grond, toe sit 2 se turf
Konst. Mpho Mabaso (links) en ao Thabiso Malakoane by die tenkwa wat in die modder vasgeval het. Diewe wou glo dié vragmotor gebruik om brandstof uit Transnet se pypleiding buite Kroonstad te steel. Foto: SAPD

Twee wakker polisielede het Maandagoggend vir ’n groot deurbraak gesorg toe hulle diewe wat glo brandstof uit die pypleiding tussen Kroonstad en Steynsrus wou steel, in hegtenis geneem het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê ao. Thabiso Malakoane en konst. Mpho Mabaso is omstreeks 05:45 na ’n voertuigongeluk buite Kroonstad ontbied.

’n Werknemer van Transnet het die polisielede ongeveer 10 km buite Kroonstad op die Steynsruspad genader en gesê hy sien ’n verdagte brandstoftenkwa en ’n wit bakkie by Transnet se brandstofpypleiding.

Malakoane en Mabaso is onmiddellik na die pypleiding waar ’n brandstoftenkwa met ’n Mpumalanga-registrasienommer en die bakkie gestaan het.

Twee mense het in die wit bakkie gespring en probeer weggejaag.

Die twee polisielede het egter die mans, van onderskeidelik 47 en 30 jaar oud, in hegtenis geneem.

Thakeng sê die twee wou vermoedelik petrol uit Transnet se pypleiding steel, maar die tenkwa het in die nat grond vasgeval.

Ao. Thabiso Malakoane by die betonput waar diewe brandstof uit die pypleiding probeer steel het. Daar is ’n klep in sulke putte waaraan die diewe ’n pyp koppel waarmee hulle dan brandstof steel. Foto: SAPD

Hulle sal van kwaadwillige saakbeskadiging asook die beskadiging van die infrastruktuur van Transnet aangekla word.

“Ons beskou dit as ’n groot deurbraak omdat ons nie weet hoeveel keer hulle al petrol op dié manier gesteel het nie,” sê die klusterbevelvoerder van Kroonstad, brig. Mapulane Mbeloane.

“Ek wil ao. Malakoane en konst. Mabaso gelukwens omdat hulle seker gemaak het dat die twee verdagtes aan die pen ry.”

Die Valke het ook op 29 Desember ’n groot slag geslaan toe twee mans by Warden in hegtenis geneem is en daar op vier tenkwaens vol brandstof beslag gelê is.

Dit kom nadat diewe op 18 Desember naby Verkykerskop toegeslaan en vermoedelik derduisende liter brandstof uit Transnet se multiprodukpypleiding gesteel het.

’n Plaasbewoner, Jurie Coetzee, het gesien hoe drie tenkwaens en nog voertuie by ’n betonput stilhou. Die pypleiding loop deur die betonput waarin daar ’n inspeksieglasie en ’n klep is.

Die diewe koppel dan hul eie pyp op die klep en steel só die brandstof.

In nog ’n voorval op 31 Desember het diewe Transnet se pypleiding vanaf Alrode na die O.R. Tambo-lughawe geteiken om petrol te steel.

Dié voorval het tot ’n ontploffing gelei toe brandstof by die klep uitgelek het. Inwoners van Alberton wat naby die pypleiding bly, moes hul huise ontruim totdat die nooddienste die brand onder beheer gebring het.

Volgens Sibongiseni Khathi, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet, was daar die afgelope paar maande heelwat voorvalle van diefstal by die maatskappy se pypleidings.

Kapt. Lloyd Ramovha van die Valke sê ook dat dié soort diefstal toeneem.

https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/duisende-liter-brandstof-uit-nasionale-pypleiding-gesteel-20191219

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.