Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Brandweerlede in ‘lokval’ aangeval
Nooddienspersoneel
Benewens aanvalle op brandweerpersoneel word stadseiendom soos dié brandweerwa van die Stad Kaapstad beskadig. Die skade is tydens 'n voorval in Khayelitsha aangerig. Foto: Verskaf

Twee lede van Kaapstad se brandweerdiens is Saterdagoggend deur hul eie kollegas hospitaal toe gebring nadat hulle in ’n lokval gelei en aangeval is.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstadse brandweer-en-reddingsdienste, sê hulle het omstreeks 03:00 ’n oproep oor ’n huisbrand in Wallacedene, ’n informele nedersetting naby Kraaifontein, gekry.

Gewoonlik word hul spanne deur die polisie na gevaarlike gebiede begelei, maar volgens die inbeller was die polisie reeds op die toneel.

Een voertuig met ’n span brandweerlede was eerste daar.

“Ons lede ken die verskil tussen die rook van ’n huisbrand en ’n ander soort vuur. Daar was wel rook dieper tussen die strukture in en, hoewel dit nie gelyk het na ’n huisbrand nie, was dit van so ’n aard dat twee lede, ’n man en ’n vrou, solank gaan ondersoek instel het,” sê Carelse.

Die twee het in ’n stegie gestap toe iemand om ’n hoek uitspring en die man met ’n vuurwapen in die gesig slaan.

Nog twee aanvallers het bygekom en die lede vasgekeer.

“Hul pad was versper en hulle kon nie vlug nie. Die vrouelid kan Xhosa praat en sy het die aanvallers probeer oortuig om hulle te laat gaan. Toe word ’n vuurwapen op haar ook gerig en sy is met die dood gedreig,” sê Carelse.

Die rowers het toe die man se persoonlike besittings soos sy beursie en selfoon gevat. Die vrou het niks by haar gehad nie.

Daarna het die aanvallers die man beveel om alleen weg te stap.

Die vrou het gevrees dat hulle haar óf gaan skiet óf verkrag en het daarin geslaag om weg te hardloop.

Terug by die brandweervoertuig het hulle alarm gemaak, die ander bystandspanne wat op pad was, laat weet van die lokval en toe reguit na die Kraaifontein-polisiestasie gejaag.

“Daarna is die twee hospitaal toe gebring waar albei behandel is. Dit was die tweede keer dat dit met die vroue-lid gebeur,” voeg Carelse by.

Volgens hom was dit ook die tweede aanval op brandweerlede in ’n maand. Nog ’n lid is vroeër in Khayelitsha van sy brandweer-handradio beroof.

JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Saterdagoggend se aanval as ’n lokval beskryf.

“Dit blyk daar was geen struktuur wat gebrand het nie.

“Wat dit besonder ernstig maak, is dat ’n vals noodoproep gemaak is met die doel om die lede soontoe te lok sodat hulle aangeval kan word.

“Aanvalle op die stad se personeel in die voorste linie is te alledaags, veral op ons brandweerpersoneel. Hulle verskaf ’n lewensreddende diens en elke voorval soos dié beitel die vertroue tussen die brandweerdiens en die gemeenskap weg,” het hy gesê.

Smith noem ook dat aanvalle op Kaapstad se nooddienswerkers sedert die begin van die jaar toegeneem het, en veral die laaste paar maande.

“Daar was so ’n rukkie gelede vier of vyf aanvalle op noodpersoneel wanneer hulle op ’n noodroep gereageer het en nou weer die afgelope paar dae.

“Wat nou gaan gebeur, is dat noodpersoneel sal weier om te reageer sonder polisie-begeleiding. Dit sal heeltemal billik en redelik wees, omdat hulle te bang is om in daardie gebied in te gaan. Dit gaan dus hul reaksietyd stadiger maak, afhangend van hoe beskikbaar polisie-begeleiding is,” het Smith gesê.

Hy het ’n beroep op mense gedoen om na vore te kom met inligting oor sulke voorvalle, omdat dit “die hele gemeenskap straf”.

• Mense met inligting oor die aanval, kan die Kaapstadse noodkommunikasiesentrum bel by 021 480 7700 of 107 skakel van ’n landlyn af.

Die polisie kan ook gekontak word.

Meer oor:  Nooddienste  |  Jp Smith  |  Kaapstad  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.