Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
NRO skort program in SA op ná roof by weeshuis
Lisa Ashton se noodpaspoort wat sy op haar Facebookblad geplaas het.

’n Britse nieregeringsorganisasie (NRO) is so bekommerd oor die veiligheidsituasie in Johannesburg dat hy besluit het om voortaan eerder nie vrywilligers Suid-Afrika toe te stuur nie.

Dít volg op die gewapende rooftog Vrydag by die iLamula House-weeshuis in Ennerdale.

Sewe gewapendes het by die weeshuis toegeslaan.

Die weeshuis is ’n projek van die Brits-gebaseerde Winnie Mabaso-stigting, wat in 2004 gestig is om veral na kwesbare en mishandelde weeskinders om te sien.

Lisa Ashton, Britse stigter van die Winnie Mabaso-stigting, was ten tyde van die voorval op ’n ses weke lange besoek aan die land. Sy en twee werkers van die weeshuis is Vrydag deur die roofbende aangehou.

Hulle is van kredietkaarte, geld en al hul dokumente, insluitend ID-boekies, rybewyse en Ashton se paspoort beroof.

Ashton het haar ontbering Sondag ná haar aankoms in Brittanje op die Winnie Mabaso-stigting se Facebook-blad as ’n wipwarit van emosies beskryf.

“Dit is met enorme hartseer dat ek hierdie aaklige nuus met julle moet deel,” het Ashton geskryf. “Dit was ’n baie hartseer manier om so ’n wonderlike besoek af te sluit.”

Niemand is in die voorval beseer nie en geen weeskind het die rooftog gesien nie, sê sy, maar sy het groot geskrik.

“Ons het reeds streng veiligheidsmaatreëls en ons kon nie veel meer gedoen het om die aanval te voorkom nie,” skryf Ashton.

Die NRO het besluit om sy vrywilligerprogram voorlopig op te skort, het sy aangekondig. ’n Vergadering van die NRO se trustees sal nou belê word om oor die pad vorentoe te besin.

Ek wil nie hê dit moet met enigiemand anders gebeur nie.

Volgens Ashton het die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika haar Vrydag gehelp om slaapplek te bekom en van noodreisdokumente voorsien.

Sy het bygevoeg dat die TLC-kinderhuis, wat sowat 15 minute van iLamula-weeshuis is en deur ’n vriend van haar bestuur word, ook verlede week deur gewapende rowers geteiken is.

“Ek het besluit om hierdie storie met julle te deel om die nuus onder ander kinderfasiliteite en NRO’s in Johannesburg te versprei sodat hulle op hul hoede kan wees.

“Ek wil nie hê dit moet met enigiemand anders gebeur nie.”

Ashton wonder of daar moontlik ’n sindikaat in Johannesburg kan wees wat sulke organisasies in die aanloop tot Kersfees teiken.

“My betrokkenheid by die Winnie Mabaso-stigting gaan voort,” het Ashton belowe.

“Ons sal nie toelaat dat hierdie voorval ons werk in Suid-Afrika benadeel nie, hoewel daar noodgedwonge veranderings aangebring moet word om die veiligheid van ons personeel en kinders te verseker.”

Isabel Potgieter, woordvoerder van die Britse hoëkommissariaat in Pretoria, het Sondag gesê sy kan nie op spesifieke konsulêre aangeleenthede kommentaar lewer nie, maar het wel bevestig dat die hoëkommissariaat die naweek ’n Britse burger bygestaan het wat in ’n voorval betrokke was.

Sers. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n saak van gewapende roof ondersoek.

Volgens hom het die voorval buite die weeshuis se perseel plaasgevind. Ashton is moontlik agtervolg en deur twee gewapende mans gekonfronteer toe sy by die weeshuis stilhou, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.