Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Broer vermoor: Gee tog vir elkeen ’n selfoon!

Dié berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is

Dalk is die oplossing ’n selfoon vir elkeen, dan sou sy broer nie doodgeskiet gewees het nie.

Louis Kleyn (66) tuur af en toe in die verte deur die venster terwyl hy Dinsdag vertel hoe sy jonger broer, Anton (61), die vorige aand op hul kleinhoewe in die Boschkop-gebied oos van Pretoria doodgeskiet is.

Louis Kleyn (66) vertel Dinsdag van die huisroof op sy plaas waarin sy jonger broer, Anton (61), doodgeskiet is. Foto: Deaan Vivier

Sy selfoon en dié van ’n vriend is onder meer in die voorval geroof.

“Ek wil hê die regering en politieke partye moet met al die geld wat hulle uit korrupsie kry, vir elke persoon ’n selfoon koop, want dan sal daar minder moord wees,” sê hy.

Drie aanvallers het Anton en ’n vriend, Aubrey du Plessis (45), in hul huis langs die Pienaarsrivier oorval.

“Ek het breë skouers, ek sal seker hierdeur kom,” sê Louis Kleyn (66) nadat sy jonger broer in ’n aanval op sy plaas in die Boschkop-gebied oos van Pretoria doodgeskiet is. Foto: Deaan Vivier

Du Plessis, wat op die bank gelê het, is eerste geskiet. Die aanvallers het van buite die huis deur die venster op hulle losgebrand. Hy het toe geskreeu om Anton, wat in daardie stadium in die kamer was, te waarsku.

Anton het uit die kamer gekom met ’n Chinese swaard (wat vir versiering teen die muur gehang het) as wapen. Hy het vir Du Plessis gesê om te gaan wegkruip, sê Louis.

Net toe is daar ook op Anton geskiet. Hy is in die bors getref, en is vermoedelik dood nog voordat hy die grond getref het.

Die huis langs die Pienaarsrivier waar Anton Kleyn (61) doodgeskiet en sy vriend Aubrey du Plessis (45) ernstig gewond is. Foto: Deaan Vivier

Du Plessis het in die badkamer weggekruip, en kon later daarin slaag om weg te glip en by Louis uit te kom. Die twee huise is ’n hele entjie uit mekaar.

Louis en een van sy seuns, Ryno, het dadelik saam met Du Plessis teruggejaag. Sy ander seun, Luan, het later daar aangekom.

Hy raak ’n rukkie stil voor hy vertel van die oomblik toe hy op sy broer “so daar op die vloer” afgekom het.

“Na regte moes ek gegaan het; ek is die ouer broer,” sê hy.

Ryno Kleyn het die bebloede Aubrey du Plessis hospitaal toe geneem nadat hy geskiet is. Sy oom Anton Kleyn (61) is doodgeskiet op hul kleinhoewe in die Boschkop-omgewing oos van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Terwyl hulle gewag het dat hulp opdaag, het Louis vir Ryno gevra om Du Plessis na die hospitaal te neem.

“Hy het toe al redelik baie bloed verloor. Op pad na die hospitaal het hy steeds baie gebloei, jy moes gesien het hoe dit in sy kar gelyk het,” sê Ryno.

Du Plessis is in sy regterlies gewond.

Ryno het die bebloede Du Plessis self by die Life Wilgers Hospitaal ingedra en op ’n hospitaalbed neergesit.

“Hy was in daardie stadium in geweldige pyn en ek kon sien hy het baie bloed verloor,” sê Ryno.

Anton Kleyn (61) is in sy huis doodgeskiet. Twee selfone en ’n televisie is onder meer in die voorval gesteel. Foto: Verskaf

Terug by die rivierhuis het die polisie met hul ondersoek begin. Die koeël waarmee Anton geskiet is, is gevind waar dit vasgeslaan het in die koppenent van ’n bed in die kamer agter hom.

“Hopelik sal hulle die ander koeël in die hospitaal uit Aubrey se been haal om in die ondersoek te help,” sê Ryno.

Anton se dood is ’n groot skok vir sy familie. Leon sê in sy 40 jaar op sy kleinhoewe was daar nog nooit so iets nie – “net af en toe ’n inbraak of diefstal”.

Hy troos hom aan die wete dat sy broer daar langs die Pienaarsrivier, wat verby die plaas loop, ’n gelukkige lewe gelei het.

Die koeëlgate waar die aanvallers losgebrand het, kan duidelik gesien word. Foto: Verskaf

Anton, wat onder meer as kontrakteur gewerk het, het twee jaar gelede afgetree en by sy broer op die plaas kom woon. Hy was sonder vrou of kinders.

“Hy was mal daaroor by die rivier; hy het dit so geniet daar,” sê Louis.

Hy en sy familie oorweeg dit nou ernstig om te verkoop en elders te gaan bly.

Netwerk24 kon nie dadelik Du Plessis se familie bereik nie, maar hulle het aan die Kleyns gesê dat hy in ’n stabiele toestand verkeer.

Volgens kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, is benewens die twee selfone ook ’n televisie gesteel.

’n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, sê Makhubele.

Meer oor:  Selfoon  |  Vermoor  |  Vuurwapen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.