Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Bronne van onwettige sigarette welbekend'

Die werklike wenners in die stryd om tabakverkope in Suid-Afrika is diegene wat dit oor die grense smokkel, sê groot tabakhandelaars.

Volgens die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) trek mense in buurlande voordeel uit die Suid-Afrikaanse verbod op sigaretverkope sedert die Covid-19-inperkings ingetree het.

“Hulle koop wettiglik sigarette by vervaardigers met fabrieke in ons buurlande. Dit word dan oor die grens na Suid-Afrika gesmokkel waar die vraag weens die verbod groot is en mense gedwing word om belaglike pryse vir hierdie onwettige goedere te betaal,” sê Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita.

Fita is nou in ’n regsgeding met die Suid-Afrikaanse regering gewikkel oor die verbod op die verkoop van sigarette en tabakprodukte in die land.

Prof. Corné van Walbeek, direkteur van die navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep) aan die Universiteit van Kaapstad, het aan die Sunday Times gesê “hierdie bronne [van sigarette] is welbekend en sluit die multinasionale ondernemings soos BAT [British American Tobacco] in”.

'n Bakkie wat onwettige sigarette vervoer het waarop die Valke in Lydenburg, Mpumalanga, beslag gelê het.

Die universiteit se navorsingseenheid het die verkope van sigarette onder die loep geneem en gekyk na handelsmerke, pryse en hoe sigarette aangekoop word. Sowat 12 000 mense is ondervra.

Volgens die opname is die handelsmerke wat tydens die sluiting prominent was, dié wat aan die Fita verbonde is.

“Baie buitelandse handelsmerke word in die land verkoop wat van buurlande soos Zambië, Zimbabwe, Lesotho, Malawi en Mosambiek na Suid-Afrika gebring word,” sê Mnguni.

British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) het by navraag gesê hulle doen niks verkeerd nie.

Johnny Moloto, hoof van eksterne sake van Batsa, sê ’n beduidende persentasie van die sigarette wat in die plaaslike mark verkoop word, het tale en belastingseëls op die pakkies wat nie plaaslik gebruik word nie.

Hy sê verder Batsa het gesien sommige van sy handelsmerke word tydens die inperking verkoop, maar kon nie bevestig of die handelsmerke wat tans in die mark beskikbaar is die ware Jakob is nie.

“Ons het geen sigarette, of wat ook al, sedert die inperking in Maart ingetree het in Suid-Afrika te koop aangebied nie. Dit word deur misdadigers uitgebuit,” sê Moloto.

In ’n verklaring wat Tax Justice South Africa op 5 Julie uitgereik het, het die 100 dae van inperking die land reeds R3,5 miljard aan verlore aksynsbelasting gekos.

“Dit is geld wat dringend benodig word vir gesondheidsorg, opvoeding en kos vir miljoene Suid-Afrikaners wat honger ly,” sê Yusuf Abramjee, die stigter.

Meer oor:  Bat  |  Batsa  |  Inperkingsregulasie  |  Tabaksmokkelaars  |  Tabakstryd  |  Tabakverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.