Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bruidegom voor troue in boeie weg

Die troudag van ’n vermeende bedrieër van KwaZulu-Natal (KZN) is Saterdag in die wiele gery toe hy kort voor die seremonie by ’n vakansieoord in die Drakensberg in hegtenis geneem is.

George Vorster (32) van Mtubatuba moes nog net sy sokkies en skoene aantrek voordat hy die paadjie na die kansel sou afstap om af te haak toe hy in hegtenis geneem is.

George Vorster
George Vorster (32) toe hy Saterdag op sy troudag in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KZN, sê Vorster het Maandag vlugtig in die Pinetown-landdroshof op ’n aanklag van bedrog verskyn.

Hy is steeds in aanhouding en sal eersdaags op nog aanklagte van bedrog in Durban verskyn, het Mbele gesê.

Rhyno Lombaard, ’n private ondersoeker van LieTech Investigations, was bykans twee jaar op Vorster se spoor.

Volgens hom het Vorster glo deur beweerde slenters etlike mense met miljoene rande ingeloop.

Vorster het hom glo bly ontglip en vals adresse gegee. "Ek het uitgevind dat hy Saterdag sou trou en ek het geweet ek sou hom beslis by die oord kry." Lombaard het saam met die polisie gewerk en Vorster, wat reeds sy troubroek en -hemp aangehad het, in hegtenis geneem.

Foto's wat Saterdag van Vorster geneem is, wys hoe hy kaalvoet op die trap van die chalet by die oord waar hy sou trou, sit en die verte intuur. Die trougaste het al by die oord begin aankom vir die bruilof toe die bruidegom geboei is.

Die ondersoek na Vorster het reeds in 2019 begin toe ’n kliënt van Lombaard hom gevra het om Vorster op te spoor omdat hy glo met sy geld verdwyn het. Vorster is die besturende direkteur by VRST International. Volgens sy Facebookblad is hy ook bekend as George Albert Vorster V.

Hy het mense glo gehelp met belastingkwessies van in- en-uitvoere.

Lombaard het Vorster in Mtubatuba opgespoor, maar sy kliënt het besluit om nie verdere stappe te doen nie. Intussen het nog etlike mense LieTech Investigations genader om Vorster op te spoor.

Vorster het onmiddellik gevra om met sy prokureur te praat toe hy Saterdag in hegtenis geneem is. ’n Sakevennoot van hom, wat een van die trougaste was, het die prokureur gebel en Vorster het in ’n kort oproep aan hom slegs die woord "bedrog" geuiter.

Vorster se bruid, wie se naam op regsadvies weerhou word, het volgens Lombaard nie geskok voorgekom toe sy hoor haar aanstaande is in boeie nie. "Sy het nie eens gevra vir wat hy in hegtenis geneem word nie."

Terwyl Vorster in die polisievoertuig gesit het, het sy bruid vir hom gesê hy moenie homself bekommer nie, "ek staan saam met jou".

Sy het nie op navrae van Netwerk24 gereageer nie.

Meer oor:  George Vorster  |  Mtubatuba  |  Bedrog  |  Bruidegom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.