Die buurtwag in Modimolle in Limpopo het ’n beloning van R10 000 uitgeloof vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die moordenaar(s) van ’n geliefde diereliefhebber.
Trudie Grabe (73) is Vrydag in haar agtertuin in Emmastraat oorval en etlike kere met ’n mes gesteek.
Haar lyk is omstreeks 10:00 gekry.
Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê sy het steekwonde aan haar nek, kop en hande gehad. Dit lyk asof sy met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.
Grabe het honde by haar huis gewas en hul hare geskeer. Inwoners het ook hul troeteldiere by haar gelos wanneer hulle met vakansie gegaan het. Sy was ’n groot diereliefhebber en het ook honde van haar eie gehad.
Trudie Grabe is Vrydag in haar agtertuin in Emmastraat oorval en etlike kere met ’n mes gesteek.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Mokopane (Potgietersrus) se hulp is intussen ingeroep en 14 honde wat in hokke in die Grabes se erf was, is verwyder en word nou by die Mokopane-DBV versorg.
Een van Grabe se kliënte wat Vrydagoggend haar hond wou gaan aflaai vir ’n mooimaaksessie het onraad gemerk toe Grabe nie uit die huis gekom het nie.
“Sy het altyd uitgekom as iemand by die hek was,” het ’n inwoner van die dorp gesê.
Die polisie is ontbied en daar is toe op haar lyk afgekom. Haar hardhorende man, Dolf (75), is sieklik en is deur sy vrou versorg.
Hy was in die huis en het nie geweet sy is buite die huis vermoor nie.
Die egpaar se enigste kind is sowat drie jaar gelede dood.
Inwoners is geskok oor die moord op Grabe. Elsie Nel sê; “Trudie ek sal jou baie mis. Rus veilig in Jesus se arms.”
Muriel van den Berg het op Facebook geskryf; “Trudie jy het ons hondjies met soveel liefde geskeer. My hart is stukkend.”
Die polisie en die buurtwag is op soek na ’n man met ’n pers hemp en swart broek wat Vrydag in Emmastraat gesien is.
Enigiemand met inligting kan die Modimolle-polisie bel by 014 718 1055 of die polisie se noodnommer, 10111.