’n Lid van die buurtwag van die Hartbeespoort/Schoemansville-omgewing in Noordwes is in ’n stabiele toestand nadat hy Vrydagoggend geskiet is.
Die man, wie se naam in die stadium nog nie bekend is nie, was nie op patrollie nie, maar het gereageer toe sy buurman se alarm afgegaan het.
Dit blyk dat rowers net voor 03:00 by ’n huis probeer inkom het, toe die alarm afgaan. Hulle het van erf na erf oor heinings gespring, wat al hoe meer alarms geaktiveer het.
Inwoners is in die stadium nie seker of die buurman se huis die eerste een was waar die aanvallers die alarm laat afgaan het nie, maar sê die buurtwaglid het, in sy poging om die buurman te help, oor die heining tussen hulle gespring en byna bo-op die verdagtes geland.
Hy is op ’n kort afstand geskiet.
Die polisie en buurtwaglede was gou op hul spoor en het, terwyl die polisiehelikopter laag oor die huise en strate gevlieg het, ook die erwe een vir een deursoek.
* Meer inligting volg later.

Paaie in die omgewing was Vrydag omstreeks 08:00 nog afgesper. Foto: Verskaf