Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Byeboewe stroop heuning, verwoes korwe, verjaag swerms

Byeboere in die omgewing van Pietermaritzburg en die KwaZulu-Natalse Middelland ondervind ’n vlaag van diefstalle en vandalisme waar hele korwe verwoes en swerms verjaag word.

’n Heuningkoek. Foto: Verskaf

Guy Solomon, ’n bekroonde byeboer van Baynesdrift naby Pietermaritzburg, se korwe is onlangs vir die derde keer verniel. In die mees onlangse voorval het hy sowat 800 kg heuning en 50 korwe, wat agter lemmetjiesdraad gehou is, verloor.

Hy sê vyf van sy werknemers se toekoms is nou in gedrang en sy grootste kliënt, ’n ouetehuis op die dorp, is hul heuning kwyt.

“Byeboerdery is gebou op vertroue: jy plaas die korwe daar buite en jy vertrou.”

Solomon het vroeër die maand die eerste prys vir die beste heuning in die provinsie op die skou in Pietermaritzburg gewen.

“Ek en my vrou is afhanklik van die inkomste uit heuning as ’n aanvulling tot ons pensioen.” Hy glo die diewe is mense wat vinnig ’n paar rand wil maak. Hulle slaan op maanlignagte toe en gebruik pale om oor die lemmetjiesdraad te kom.

Guy Solomon

Hy sê in die eerste insident verlede jaar het die diewe sy korwe vernietig. Die tweede groep het die heuning gesteel, waarna hul die deksels netjies teruggeplaas het. Die laaste groep het die bye met sigarette uitgerook en toe die korwe omgegooi en die koeke gesteel.

Solomon sê die skelms verkoop dié heuning as “wilde heuning” aan mense wat nie die verskil ken nie. Hy sê die heuningkoek van wilde heuning is altyd sag. “As die kern hard is, kom dit definitief uit ’n korf.”

Craig Campbell van Howick, sowat 20 km noordwes van Pietermaritzburg, se korwe is Donderdag vernietig en die heuning gesteel. ’n Hoogs ontstelde Campbell van Peel’s Honey sê 35 van sy korwe is totaal vernietig. Hy het ’n week tevore ook 40 korwe in ’n strooptog verloor. “Ons ly massiewe verliese weens vandalisme en diefstal. Verlede jaar was dit 150 korwe.

“Om dié tipe diefstal te bestry is baie moeilik en die enigste manier is om wagte by die korwe te plaas, maar dit is baie duur. Die polisie volg in die algemeen nie dié diefstalle op nie omdat dit glo te klein is en dit moeilik is om te bewys dat die heuning wat gesteel is, joune is.”

Sy verliese was verlede jaar meer as R100 000. Dit sluit in die inkomste uit bestuiwingsdienste aan vrugteboere.

Volgens Mike Miles, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Byebedryfsorganisasie (Sabio) is vandalisme ’n groot bedreiging vir byeboere, maar hul lede bespeur nie ’n toename nie.

Miles sê in sommige gebiede is dit wel ’n probleem en het byeboere selfs begin om ten duurste wagte in diens te neem.

In baie gevalle verwyder byeboere eenvoudig hul korwe uit gebiede waar diefstal ’n probleem is.

Meer oor:  Pietermaritzburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.