Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Byna daagliks 1 transitoroof aangemeld

Sedert die begin van die jaar is daar byna een transitorooftog per dag aangemeld, luidens syfers wat vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) bekend gemaak is.

Daarvolgens is daar van 1 Januarie tot 19 Februarie vanjaar 45 rooftogte aangemeld – 26 daarvan in Gauteng.

Die DA in Gauteng het in reaksie hierop vir ingryping gevra.

“Dit is kommerwekkend en dui daarop dat Gauteng deur ’n groot uitdaging in die gesig gestaar word,” sê John Moodey, Gautengse DA-leier, in ’n verklaring.

Hy het ’n beroep op David Makhura, premier en provinsiale voorsitter van die ANC, gedoen om in te gryp, “want die jongste syfers toon die polisie se benadering tot transitorooftogte is ondoeltreffend”.

transito

Moodey meen die polisie se gespesialiseerde intelligensie-eenheid moet beter opleiding ontvang om te help met die voorkoming van transitorooftogte.

’n Ingeligte bron in die transitobedryf sê dit voel of die bedryf weer op pad is na 2018 toe daar ’n skerp toename in transitorooftogte was.

Kol. Brenda Muridili, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie gaan nie reageer op “buitestanders se statistieke nie”.

Volgens Muridili toon die polisie se jongste syfers dat transitorooftogte aan die afneem is. In 2017-’18 is daar nasionaal 238 gevalle aangemeld. Dié syfer het in 2018-’19 tot 183 gevalle afgeneem.

“Die minister sal die jongste statistieke later vanjaar bekend maak,” sê Muridili.

transito

Sy beklemtoon dat Sabric nie dieselfde kriteria as die polisie gebruik om onderskeid te tref tussen die verskillende soorte rooftogte nie. Die polisie se statistieke tref onderskeid tussen ’n bewegende en stilstande geldwa wat beroof word, asook geld wat uit ’n winkel beroof word en rowers wat die geldsak onderskep voordat dit in ’n voertuig gelaai word.

“Sabric kyk nie noodwendig só daarna nie,” sê Muridili.

Dr. Hennie Lochner, ’n oudpolisieman en navorser in polisiekunde, het by navraag hieroor gesê dít is nie noodwendig ’n slegte ding nie.

“Die polisie het al per geleentheid gesê hulle dokumenteer nie gevalle waar daar ’n poging tot ’n transitorooftog was nie. Ek voel dit is verkeerd,” sê Lochner.

Hy meen Sabric se syfers is daarom geloofwaardiger “omdat hulle na alle gevalle van transitorooftog kyk”.

transito

Lochner sê dat dit die polisie sal help om na sogenaamde “mislukte” pogings te kyk, want waardevolle misdaadinligting kan so ingesamel word.

Dr. Johan Burger, senior navorser en konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê die aftakeling van die polisie se misdaadintelligensie kan as ’n bydraende faktor in die toename in transitorooftogte gesien word.

“Daarby gesê moet die polisie erkenning kry, want hulle slaag tog daarin om ’n duik te slaan in hierdie bendes.”

Hy meen transitorooftogte sal eers die finale nekslag toegedien kan word as die polisie genoeg inligting het om voorkomend te kan optree.

transito

Burger het verwys na die skerp styging in transitorooftogte in 2006-’07 en in 2015-’16 en meer onlangs in 2018.

Hierdie rooftogte is bekamp danksy belanghebbendes in die veiligheidsbedryf, vervoerbedryf en die polisie wat ’n spesiale taakmag op die been gebring het.

“Groot geld sal altyd ’n trekpleister bly, en díe bendes is geweldig goed georganiseerd om dit in die hande te kry én vervolging te probeer ontduik,” sê Burger.

Meer oor:  Sabric  |  Transitorooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.