Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bytende aanvaller probeer trouring roof

’n Aanvaller het halflyf by die motorruit van sy Jeep ingehang en na sy linkerhand gebyt in ’n poging om sy goue trouring van sy vinger af te kry.

Toe slaan hy die aanvaller met sy regterhand oor die kop by die voertuig uit. Dit was egter nie die einde nie.

Só beskryf Duncan McLeod (46), stigter en redakteur van die webblad TechCentral, die oomblik toe twee gewapende mans hom Woensdagaand in die spitsverkeer in Bordeaux, Randburg, in sy motor aangeval het.

Duncan McLeod (46)Foto: Verskaf

McLeod was omstreeks 18:45 op pad huis toe van ’n funksie in Sandton waar hy die seremoniemeester was, toe hy in die stilstaande verkeer in Republiekweg in die rigting van Jan Smuts-rylaan vasgesit het.

Sy motorruit was halfpad oop en hy het gesien hoe ’n man in sy rigting aankom.

“Toe die man besef ek het hom gesien, het hy na my toe gehardloop. Ek kon sien dit is nie jou gewone bedelaar nie,” sê McLeod.

Nog voordat McLeod sy ruit kon toemaak, het die aanvaller sy hand ingesteek en die motorsleutels probeer gryp. McLeod het dit op die grond voor die passasiersitplek gegooi.

Intussen het nog ’n aanvaller verskyn en albei het probeer om McLeod se selfoon te gryp. Hy het dit op die passasiersitplek gegooi sodat dít ook buite hul bereik is.

Die tweede aanvaller het egter in daardie stadium by die motorruit ingeleun om die selfoon in die hande te kry. ’n Geveg het tussen hom en McLeod ontstaan en die selfoon het by die ruit uitgeval. Die ander aanvaller het dit opgetel.

Die tweede aanvaller het toe geëis dat McLeod sy trouring vir hom gee.

“Hy het weer by die die motorruit ingehang en na my hand gebyt. Hy het sy mond oop en toe gemaak om my vinger te probeer byt,” sê McLeod.

Dit is toe dat hy die man oor die kop slaan.

Toe daar egter ’n vuurwapen op hom gerig word, het McLeod besluit om eerder sy ring aan die rowers te gee. Hy het ook die toeter van sy motor gedruk.

“Snaaks genoeg het die eerste aanvaller my nog gehelp om die motorsleutels in die aansitter te sit en gesê ek moet ry,” sê McLeod.

Die aanvallers, albei in hul 20’s, is toe daar weg.

Die voorval het sowat 6 km van sy huis af gebeur. Hy sê die hele aanval het sowat twee minute geduur.

Die rowers het in die proses ook die knoppie vir sy motorruit gebreek.

“Al waaraan ek op daardie oomblik gedink het, is hoe durf hulle dit doen,” sê McLeod.

Meer oor:  Randburg  |  Bordeaux  |  Verkeer  |  Aangeval  |  Misdaad  |  Beroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.