Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Carel vrees vir sy lewe in konfrontasie met taxi’s
Bebloed, beseer en vol snye en gate waar hy met bakstene geslaan is, kon Carel Kruger glo steeds nie twee Tshwane metropolisielede oortuig om hom te help nie.

Hulle het geslaan om dood te slaan.

Carel Kruger (43) was oortuig daarvan toe die baksteen-houe vir die soveelste keer op hom neerreën.

Selfs toe hy bebloed na twee lede van die Tshwane-metropolisie gehardloop het, een aan die baadjie gegryp en gesmeek het: “Help!” het een van die aanvallers nog ’n hou ingekry.

“Die twee metropolisiemanne het net daar gestaan. Hulle was gewapen, maar het niks gedoen nie.”

Toe vlug Kruger maar tussen die voertuie in Lavenderweg in die noorde van Pretoria in en bel ’n vriend om hulp.

Ander lede van die Tshwane-metropolisie het wel later ingegryp en twee vermeende aanvallers gevang, maar Kruger sê hy gaan klagte indien teen die twee wat volgens hom net gestaan en kyk het hoe hy veg vir sy lewe.

“Ek is kwaad. Omdat ons so moet lewe, dat ek net nog ’n slagoffer is soos duisende ander,” sê hy.

Hy het Vrydagaand net na 19:00 in Lavenderweg gery toe ’n wit taxi bane verwissel en amper reg voor hom inry.

“Ek het getoet en ligte geflikker, toe druk die taxi my bakkie van die pad af. Ek het versnel om voor hom in te kom. Toe ek terug in die pad is, het ek bane verwissel om uit sy pad te kom.”

Die bestuurder van die wit taxi het my karsleutel deur die venster probeer uittrek. Toe ek keer, begin hulle my deur die venster te slaan.

Die volgende oomblik het die wit taxi verbygejaag en ’n blou taxi, wat in daardie stadium agter die witte was, reg langs Kruger in.

“Die blou taxi het my ook na die skouer van die pad gedwing, ek het probeer wegkom, maar die blou taxi het my bakkie van agter gestamp.”

Die bakkie se elektronika, het Kruger verduidelik, sny outomaties uit as dit deur ’n sekere impak getref word.

Na vier ure se gewag by die hospitaal kon Carel Kruger uiteindelik in die vroeë oggendure van Saterdag huis toe gaan.

“My bakkie het gestol, die wit taxi het dwarsoor die pad voor my ingetrek en die bloue het reg agter my gestop.

“Drie of vier mans het uit die taxi’s gespring.

“Die bestuurder van die wit taxi het my karsleutel deur die venster probeer uittrek. Toe ek keer, begin hulle my deur die venster te slaan.

“Ek het in die gestoei besef hulle gaan my net hier in my bakkie doodmaak, ek moet wegkom. Met die uitklim het die eerste baksteen my links teen my kop getref.

“Dit was toe asof hulle beurte gemaak het om met die bakstene los te trek. Ek het probeer keer, probeer staande bly.”

Tussen die houe deur het Kruger het twee metropolisielede op die middelmannetjie sien staan.

“Ek het soontoe gehardloop. Terwyl ek met die metropolisielede praat, het een aanvaller my sommer weer met ’n baksteen van agter geslaan. Ek het tussen die twee metrolede geval, besef ek gaan nie hulp kry nie, en tussen die karre ingehardloop”.

Die een aanvaller is agter hom aan, steeds slanende met die baksteen.

Carel Kruger het die foto probeer neem van die twee Tshwane metropolisielede wat hom glo nie wou help toe hy aangeval is nie. Hy sê egter hy sal hulle herken.

“Ek wou net wegkom. Ek het by van die voertuie in die pad probeer hulp kry, maar almal het hul deure gesluit”.

Kruger het verder gevlug, sy foon beetgekry en ’n vriend gebel om hulp.

Die vriend was in ’n rekordtyd daar.

’n Ent verder in die pad was ander metropolisielede.

Húlle het twee van die verdagtes gevang. Kruger weet nie of hulle toevallig daar was en of iemand hulle ontbied het nie.

Kruger wil, as lid van Solidariteit en AfriForum, hulle nader vir regsadvies oor optrede teen die twee metrolede wat nie gehelp het nie.

“Ek is nie wraaksugtig nie. Maar wat as dit met ’n vrou of ’n kleiner man gebeur het? Hulle sou dood gewees het. En dit was tog duidelik wié die slagoffer was!”

* Danny Mahlangu en Modiso Dooka het intussen in die hof verskyn en staan tereg op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hulle is op borgtog van R600 elk vrygelaat en moet weer op 23 Augustus in die hof wees.

** Die Tshwane-metropolisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Taxi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.