Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Cele eis koppe van Raffertys se moordenaars

Hy hoop Glen (63) en Vida (60) Rafferty se moordenaars sal binne die volgende twee weke in hegtenis geneem word.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Woensdag op sy besoek aan die gebied aan die gemeenskap van Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal gesê ná die grusame moorde op die Raffertys verlede naweek.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Argief

Glen en Vida is Saterdagaand albei by hul huis doodgeskiet nadat aanvallers die egpaar vermoedelik ingewag het. Hul waghond is ook in die aanval doodgeskiet.

Die aanvallers het voor die aanval die veiligheidskameras op die plaaswerf verwyder.

Cele het Normandien Woensdag besoek om met die Raffertys se familie en die gemeenskapslede oor hul kwellings oor misdaad in die gebied te praat.

“Ek gaan weer oor twee weke daar besoek aflê sodat ons planne kan bespreek om misdaad hier te bekamp. Ek hoop dat ek goeie nuus vir die familie kan bring in verband met die ondersoek en dat die verdagtes vasgetrek is,” het Cele Woensdag gesê.

Hy sê sedert die moorde op die Rafferty-egpaar het hy vanuit verskeie oorde gehoor dat hul dood ’n groot verlies vir die gemeenskap is.

“Ek het nog net goeie dinge van hulle gehoor.”

Hy sê alhoewel dit nou te laat is, moet gevra word wat gedoen kan word om hierdie soort misdade te voorkom. “Ons sal strategieë moet vind om misdaad te voorkom voordat ons verdagtes moet vervolg,” het Cele aan die gemeenskap gesê.

Van die bekommernisse wat die gemeenskap van Normadien onder Cele se aandag gebring het, was dat die polisie nie genoeg hulpbronne vir misdaadbekamping het nie.

Glen (63) en Vida (60) Rafferty van Normandien naby Newcastle. Foto: Verskaf

Cele het daarop gesê die plaaslike polisiekantoor het meer as 20 beamptes en nege voertuie.

“Ons sal gesprekke voer met die plaaslike veiligheidstrukture om te sien of ons nie koppe bymekaar kan sit en beskikbare hulpbronne uit alle oorde kan saamvoeg en optimaal kan benut nie,” het Cele gesê.

Roland Collyer, die Raffertys se buurman en voorsitter van die plaaslike boerevereniging, sê hulle waardeer Cele se besoek.

Hy twyfel egter of enigiets van Cele se beloftes gaan kom. “Ek weet nie of daardie verdagtes binne twee weke vasgetrek sal wees nie. Ons sal maar moet sien,” sê hy.

Collyer sê die polisie moet meer doen om hulle te beskerm. “Ons gaan die klein misdade moet bekamp om die grotes te bekamp. Iets soos betreding van private eiendom – ons kan dit aanmeld, maar die polisie doen niks daaraan nie. Moord begin by betreding van private eiendom,” sê hy.

Meer oor:  Vida Rafferty  |  Glen Rafferty  |  Bheki Cele  |  Newcastle  |  Plaasaanval  |  Moordenaars  |  Doodgeskiet  |  Egpaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.