Bheki Cele, minister van polisie, het die inhegtenisneming van ’n man in die Oos-Kaap wat na bewering sy vrou en vyf kinders met ’n byl doodgekap het, verwelkom.
Cele het Saterdag in ’n verklaring die voorval as ’n bloedige begin van die 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders beskryf. Die dood van ’n 42-jarige ma en kinders van tussen ses en tien jaar oud het die land geskok.
“Die gesin is aangeval en met ’n byl doodgemaak, wat glo dieselfde wapen is wat op die toneel gevind is.”

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Adrian de Kock
Binne 24 uur is ’n Zimbabwiese burger (34) in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Cele sê die man het na bewering ten tyde van sy inhegtenisneming geskuil en gereed gemaak om landuit te vlug.
Cele het die speurwerk in die saak geloof en ’n beroep op mans gedoen om op te hou om vroue en kinders wreed aan te val.
Vroeër is daar berig dat die vrou en kinders se lyke in die Dabekweni-nedersetting in Kwaaiman naby Koffiebaai gevind is.
Volgens die polisie is inligting ontvang dat die man in ’n familielid se woonstel in Ginsberg, King William’s Town, weggekruip het en hy is Donderdagaand daar voorgekeer.
Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Mqanduli verskyn.