Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Cele moet polisiediens herbou'

As Bheki Cele, minister van polisie, net die misdaadsindikate in Suid-Afrika kan vasvat, is die stryd reeds halfpad gewonne.

Swaar gewapende sindikate is vir die meeste ernstige geweldmisdade, soos gewapende rooftogte, transitorooftogte, huisrooftogte, motorkapings en moorde, wat plaasmoorde insluit, verantwoordelik.

Dit is die raad van dr. Johan Burger, polisiekenner en konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies, aan Cele nadat hy onlangs weer as polisieminister aangestel is.

Bheki CeleFoto: DAILY SUN

Cele, oftewel “Die Generaal”, was in die laaste deel van die vorige parlementêre termyn in dieselfde ministerspos.

Dié boorling van KwaZulu-Natal en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) word as ’n vertroueling van pres. Cyril Ramaphosa beskou.

Hy was adjunkminister van landbou voordat hy die minister van polisie geword het.

Voor dit was hy die nasionale polisiekommissaris totdat oudpres. Jacob Zuma hom in 2012 afgedank het nadat ’n kommissie van ondersoek bevind het dat hy nie ’n botsing van belange verklaar het toe hy destyds twee huurkontrakte namens die polisie met ’n sakeman aangegaan het nie.

’n Hof het in April vanjaar Cele se afdanking tersyde gestel en dit nietig verklaar.

Cele was ook die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal.

Sy heraanstelling as minister van polisie is deur Popcru, die grootste polisievakbond in die land, verwelkom.

Daar is wel diegene soos Alan Winde, Wes-Kaapse premier, wat nie te opgewonde daaroor is nie, veral omdat hy en die Wes-Kaapse regering met Cele in ’n openbare twis gewikkel is oor of provinsies meer mag oor die polisie moet hê of nie.

Burger sê hy en Cele was in 1993 saam in Engeland waar hulle sewe weke lank ’n “intensiewe” kursus in polisie-beleidsformulering bygewoon het.

“Daar is ons blootgestel aan die teorie en praktyk van polisiëring in Engeland.”

Volgens Burger maak dit en die poste wat die minister al beklee het hom uiters geskik vir die pos as polisieminister.

“Hy is deeglik aan plaaslike en internasionale polisiëring blootgestel. Verder word hy ook in die polisiediens gerespekteer omdat hy hom met die welstand van die polisiebeamptes vereenselwig.”

Benewens die gewone misdaad, moet sy grootste prioriteit wees om georganiseerde misdaadsindikate vas te vat. As daar doeltreffender teen hulle opgetree kan word, sal dit ’n groot impak op misdaadvlakke hê.

Cele was in sy vorige termyn volgens Burger ook meer as genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by misdaadbrandpunte waar hy self die konflik help oplos het.

Burger meen wel dat ’n enorme taak op Cele wag.

“Benewens die gewone misdaad, moet sy grootste prioriteit wees om georganiseerde misdaadsindikate vas te vat. As daar doeltreffender teen hulle opgetree kan word, sal dit ’n groot impak op misdaadvlakke hê.”

Burger meen Cele sal dan ook die aanbevelings van die Nasionale Ontwikkelingsplan vinniger in werking moet stel om die polisiediens meer professioneel te maak.

Prof. Elrena van der Spuy, direkteur van die Sentrum vir Kriminologie by die Universiteit van Kaapstad, stem saam dat ’n reeks uitdagings Cele weens die wanfunksionele polisiediens in die gesig staar en dat ’n “buitengewoon moeilike taak” op hom wag.

Volgens Van der Spuy moet dit ’n voorkeursaak wees om die polisiediens as organisasie te herbou. “Daar sal veral op die speurdiens gefokus moet word, terwyl die politieke skade wat aan die polisie se misdaadintelligensiedienste aangerig is ook ongedaan gemaak moet word.”

Volgens haar moet die polisie se nasionale polisiëringsmodel, hul beleide en stelsels dalk ook strategies hersien word.

Verder sal die ongelyke begrotingstoekennings heroorweeg moet word, terwyl iets daadwerkliks aan die moraal in die polisiediens gedoen moet word.

Daar sal volgens haar ook op nuwe misdaadneigings, soos kubermisdaad, gefokus moet word.

Meer oor:  Kabinet-Profiele  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.