Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Centurion-aanval: Verdagte ure voor aanval in kroeg gesien
Ruan van Heerden (18) verskyn Maandag in die landdroshof in Pretoria. Foto: Facebook/ Ruan van Heerden

Slegs ’n paar uur voordat Ruan van Heerden (18) se ouers Vrydag in die vroeë oggendure wreedaardig aangeval is, het hy ’n glas whiskey by Thirsty’s Sports Bar gedrink.

Ruan van Heerden (18) Foto: Facebook/ Ruan van Heerden

Die kroeg is ’n bietjie meer as ’n kilometer van sy ouers, Barnie (54) en Magda (49) van Heerden, se huis in Pierre van Ryneveldpark, Centurion, waar hulle glo kort ná middernag met ’n mes en ’n gholfstok aangeval is.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, sê Ruan is Vrydag sowat 600 km van sy ouerhuis in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Anel Christou, ’n bestuurder van die Thirsty’s Sports Bar sê sover sy weet was dit die eerste keer dat hy daar was.

Hy en ’n meisie, wat Christou beskryf as, “ ’n jong meisie, so 19, met lang blonde hare en ’n algemene liggaamsbou,” het Donderdag omstreeks 23:00 daar aangekom.

“Twee van ons klante het hom herken en gevra hy moet liewer loop,” sê Christou.

Volgens Christou is die mans wat Ruan gevra het om te loop, vriende van sy pa.

“Hulle (Ruan en die meisie) het buite gesit en hy het vir die mans gesê hy wil net sy whiskey klaar drink en dan sal hulle ry.”

Christou sê hy en die meisie was rustig en het nou en dan rondgekyk.

“Van die mense wat binne die kroeg was, was glo saam met hom op skool en hy het nou en dan ingekom om vir hulle iets te sê,” onthou Christou die gebeure van die aand.

Ruan en die onbekende meisie is vermoedelik omstreeks 23:30 daar weg.

Intussen is Ruan die Woensdag voor die aanval by die Cheer’z Pub and Grill in Centurion ook saam met ’n meisie gesien.

“Ruan was Woensdag hier gewees. Hy het laatoggend saam met ’n vreemde meisie iets kom eet en ’n bier gedrink. Hy het gereeld hierheen gekom, maar ons het hom bykans ’n jaar nie gesien nie. Die meisie was ook nog nooit hier gewees nie,” sê Stelios Papadopoulos, bestuurder by Cheer’z.

Die kroeg is 500 m van die Van Heerdens se huis af.

Papadopoulos sê die meisie was “nogal mollig” en het donker hare gehad. Sy het volgens Papadopoulos ouer as Ruan gelyk.

Die Van Heerdens se huiswerker het volgens Lee Orren, mede-eienaar van Seek Security, wie se span eerste op die toneel was, in die middernagtelike ure “paniekbevange” by hul beheerkamer aangeklop. Dit is ’n blok weg van die Van Heerdens se huis.

Die egpaar was nog by hul bewussyn en het veelvuldige steekwonde en ander beserings, wat vermoedelik met die gholfstok toegedien is, gehad.

Magda is van hul huis in ’n kritieke toestand met ’n noodhelikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gebring.

Stiaan Bekker, Barnie se vennoot by Veritas Eksekuteurskamers, het Sondag aan Netwerk24 bevestig die egpaar sterk goed aan.

“Magda is nog in die waakeenheid, maar is wakker en kan met haar familie praat. Barnie is uit die hospitaal ontslaan en sterk goed aan,” sê Bekker.

Ruan van Heerden is Vrydag vir die aanval op sy ouers in hegtenis geneem. Foto: Facebook/Ruan van Heerden

Hy sê die egpaar het “baie seer en (is) baie geskok” oor die voorval.

Volgens Peters het die aanvallers na bewering ná die voorval met Barnie se motor gevlug. Die voertuig is ’n paar ure later verlate in Tembisa aan die Oos-Rand gevind.

Ruan is in die Oos-Kaap in ’n Uber-motor gevind.

Peters het bevestig hulle soek nog na die vroue-verdagte.

Volgens Peters sal Ruan Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Carinda Habig, Ruan se laerskoolhoof aan die Rietvlei Akademie in Pretoria-Oos, het mediaberigte ontken dat die skool op kinders met leerprobleme fokus.

“Ons is ’n private, Afrikaanse skool met ’n gewone sillabus. Ons klasse is net kleiner en ons fokus op individuele aandag,” sê Habig.

Volgens haar het Ruan sy gr. 2- tot gr. 7-jare by die skool se Rietvalleirand-kampus deurgebring.

“Ek het nie meer kontak met Ruan of sy familie nie. Dit is wel ’n ongelooflike tragedie,” sê Habig en voeg by: “Dit sal vir my goed wees om te weet dat mense bid vir Magda se herstel en bid vir die hele gesin. Daar is geen wenners in so ’n situasie nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.