
Boeke lê oral rondgestrooi.
Die Chatty-biblioteek in Port Elizabeth se boeke is beskadig, lugversorgers is van die mure afgeruk en die gebou se bedrading is gesteel toe dit weer onder diewe deurgeloop het.
Werknemers het Woensdag die gebou gaan oopsluit ter voorbereiding van die biblioteek se heropening op vlak 2 van die inperking en besef daar is by die biblioteek ingebreek.
Die grootste motivering vir die heropening was om ’n hulpmiddel en ’n veilige leeromgewing te wees vir die honderde leerlinge uit drie verskillende wyke wat die biblioteek benut.
Die skade word nog bepaal, maar dit sal nou vir die biblioteek onmoontlik wees om soos beplan te heropen.
Daar is in Desember verlede jaar ook by die biblioteek ingebreek en die skade het toe meer as R200 000 beloop.
Helga van Staaden, wyksraadslid vir wyk 35, beskryf die voorval as teleurstellend.

Raadslid Helga van Staaden met ’n stuk van die deur. Foto’s: Facebook/Helga van Staaden

Die diefwering voor een van die vensters is oopgedwing.

Lugversorgers is afgeruk.

Die diewe het tydens ’n vorige inbraak deur ’n gat in die plafon toegang tot die biblioteek verkry.
Sy sê die biblioteek is in ’n afgeleë omgewing. Dit is saans ook baie donker in die gebied en die feit dat daar nie ’n alarmstelsel is nie, vererger net die probleem.
Volgens Van Staaden het die diewe hierdie keer die hele gebou se bedrading en elektriese toebehore soos ’n klein stoof en ’n ketel gebuit.
“Ons het aanvanklik gedink dit is stout kinders wat ledig is, maar ’n mens kan sien dit was nie die werk van kinders nie.
“Die inbraak dui ook daarop dat die diewe nie belang stel in die inhoud van die biblioteek soos die boeke nie, maar eerder die goed wat hulle kan verkoop.”
Volgens haar is dit betreurenswaardig dat skoolkinders, en veral matrikulante, nou die hulp wat hulle nodig het kwyt is.
Die diefstal is by die polisie aangemeld.