Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Cheslin: ‘Ek het my oë toegemaak en gebid’

Hulle het vir hom gesê om sy kop op ’n steen neer te sit. Hy het gedoen wat hulle gesê het en toe het hy sy oë toegemaak en gebid.

Cheslin Marsh het Donderdag sy traumatiese ervaring van die aanval op hom, nadat hy saam met sy vriendin Hannah Cornelius ontvoer is, aan die hof vertel.

Marsh was die aand van 26 Mei 2017 saam met Cornelius toe hulle deur vier mans gekonfronteer is waar hulle in haar motor voor ’n woonstelgebou gesit het. Marsh is agter in Cornelius se blou Volkswagen Citi Golf se kattebak gedruk. Marsh het getuig die ontvoerders het ’n paar draaie met hulle gery. Cornelius was voor in die motor langs die ontvoerders en hy is in die kattebak gedruk.

Marsh het telkemale in die hof begin huil.

Sy ma, Marilyn, was Donderdag by om hom te ondersteun. In ’n stadium toe die hof verdaag, het sy haar seun omhels. Sy het hom ’n stywe en lang druk gegee en sy trane van sy gesig afgevee.

Terug in die getuiebank het hy verder getuig oor hoe hy op die grond gaan lê het, sy kop op die steen geplaas het en hoe hy gesien het dat twee van die ontvoerders halwe bakstene in hul hande vashou.

“Ek het my oë toegemaak en gebid. Hierna kan ek niks onthou nie,” het hy getuig.

Marsh het die volgende dag, toe dit al lig was, sy bewussyn herwin.

Cheslin Marsh aangerand en vir die dood agtergelaat. Sy beserings word op hierdie foto gesien wat Donderdag by die hof as bewysstuk ingedien is.

“Ek het baie pyn oral gehad, en ek het probeer vasstel waar ek was,” het hy getuig.

Hy het na ’n huis gehardloop en oor die muur gespring.

“Ek het rondgehardloop op soek na hulp.”

Die inwoners van die huis het hom nie gehelp nie en eerder die polisie gebel.

Met die polisie se aankoms, het hy vir hulle vertel wat met hom en Cornelius gebeur het.

Die polisie het Marsh na ’n gemeenskapskliniek geneem waar hy toe na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is.

“My linkerarm was gebreek en daar was duike in my kop,” het Marsh getuig.

Hy was vir ’n week en ’n half in die hospitaal en is daarna na die Mediclinic Paarl oorgeplaas waar sy arm geopereer is om ’n plaat in te sit sodat dit behoorlik kan heg.

Benewens dit, het hy sy gehoor in sy linkeroor verloor.

Marsh het getuig terwyl hy in die Tygerberg-hospitaal was, het die polisie vir hom 32 foto’s as deel van ’n uitkenningsparade gebring, maar hy kon nie met sekerheid sy aanvallers uitken nie.

Nog ’n foto wat Marsh se beserings wys wat as bewysstuk by die hof ingedien is.
Marilyn Marsh troos haar seun, Cheslin, tydens ’n verposing in die hof. Foto: Adrian de Kock

Eers later, toe hy in persoon by die Pollsmoor-gevangenis aan ’n uitkenningsparade deelgeneem het, het hy Vernon Witbooi en Nashville Julius uitgeken.

Volgens Marsh was hy nog te getraumatiseerd toe hy in die hospitaal was om ’n positiewe uitkenning te doen.

“Daar was gesigte wat bekend gelyk het, maar ek kon nie met sekerheid sê nie.”

Foto’s wat van Marsh se beserings geneem is, is Donderdag in die hof gewys, asook kringtelevisiebeeldmateriaal van hoe die aanval begin het.

’n Mens sien ’n motor wat aankom en afdraai en dan sien jy dit is ’n blou Volkswagen Citi Golf wat in ’n parkeerterrein stilhou.

Die tyd op die opname wys 03:23. Teen 03:29 kan ’n mens vier mans sien nader stap, maar hulle stap verby die motor.

In die pad is daar twee ander motors wat gestop het en dit lyk of mense uit die motors klim.

’n Derde voertuig ry ook verby.

Teen 03:32 ry al die motors weg.

Dan verskyn die vier mans naby die Golf. Eers twee mans en dan ’n paar sekondes later nog twee mans.

Cheslin ken eerste beskuldigde uit op kringtelevisie-opname

Nog beeldmateriaal, dié keer van die Caltex-vulstasie op die hoek van die Bottelarypad en Koelenhofstraat in Stellenbosch, is ook in die hof gewys.

’n Mens sien ’n man met ’n swart onderbaadjie aan wat binnekom. Dis ’n opgestopte baadjie sonder moue.

’n Mens sien dan dieselfde man met die onderbaadjie wat na die OTM loop en dan omdraai en wegloop.

Hy kom terug en voel-voel aan sy klere, soek iets en draai om en loop uit.

Hy kom dan weer terug en druk ’n kaart by die OTM in en staan daar.

Die video-opname eindig daar.

Marsh het vir Witbooi en Parsons in die hof uitgeken as die twee mans wat by twee OTM-masjiene geld wou trek.

Tydens kruisondervraging het Parsons en Eben van Niekerk se regsverteenwoordigers geen vrae aan die getuie gehad nie.

Adv. Tim Vismer, vir Witbooi, het aan Marsh gestel dat sy kliënt ontken dat hy hom (Marsh) met ’n mes gedreig het. Marsh het gesê dit is onwaar.

Adv. Scanlyn Collins, vir beskuldige vier, Nashville Julius, het dit aan Marsh gestel dat die laaste keer wat Marsh Julius gesien het, was nadat hy sy selfoon en geld gevat het. Marsh het dit bevestig.

Ná die voorval was Marsh te getraumatiseerd om sy studies voort te sit.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.