Die bestuurders van twee gewilde restaurante in Sandton en Silverton, Pretoria, is die naweek in hegtenis geneem omdat hulle glo drank aan klante verkoop het.
Die verkoop van alkohol is verbode in alle drankwinkels en restaurante tydens die aangepaste vlak 3-inperking, terwyl Suid-Afrika onder ’n tweede vlaag van Covid-19-infeksies gebuk gaan.
Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, is inligting oor die oortreding by die restaurant in Wesstraat in Sandton deur misdaadintelligensie ontvang.
Klopjag
Die polisie het Saterdag tydens ’n klopjag op die restaurant toegesak en gevind dat alkohol openlik op die tafels bedien word, terwyl Covid-19-gesondheidsprotokol ook nie nagekom word nie.
Masondo sê twee van die bestuurders is in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hulle die Wet op Rampbestuur oortree het. Drank ter waarde van R600 000 is gekonfiskeer.
Drank op perseel
Intussen het die polisie Vrydag ná die aandklokreël van 21:00 opgemerk dat motors by ’n gewilde franchise-restaurant in Silverton geparkeer is. Toe die polisielede navraag gedoen het, het hulle gevind daar is ongeveer 11 mense wat alkohol op die perseel gebruik, sê Masondo.
“In die stoorkamer was alkohol in ysbakke gereed om bedien te word. Die bestuurder is in hegtenis geneem en van die oortreding van die Wet op Rampbestuur aangekla.”
Masondo sê meer as 162 mense in die provinsie is in hegtenis geneem omdat hulle nie die aandklokreël nagekom het nie, terwyl 34 mense in hegtenis geneem is omdat hulle nie maskers gedra het nie.
In Alexandra is meer as 150 mense in hegtenis geneem weens verskeie misdade.
Die verdagtes is tydens padversperrings, opsporingsoperasies en stop-en-deursoek-operasies in hegtenis geneem.