Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meghan Cremer vermoedelik Saterdag reeds vermoor

Meghan Cremer (30) is vermoedelik reeds die dag waarop sy verdwyn het, vermoor.

Haar lyk is Donderdagoggend in ’n vlak graf met ’n tou om haar nek gevind. Sy is vermoedelik verwurg.

Meghan Cremer (30) se lyk is Donderdag gekry. Foto: Facebook

Haar hande was glo ook vasgebind.

Cremer se broer Paul en haar ma, Gill, het Donderdag kort ná 10:00 haar lyk by die staatslykhuis in Soutrivier gaan uitken. Hulle wou nie met die media praat nie.

’n Lykskouing om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal sal waarskynlik volgende week gedoen word.

Cremer se lyk is sowat ’n kilometer van die Vaderlandsche Rietvlei-perdeplaas in Philippi, waar sy gewoon het, by ’n sandmyn aangrensend tot Olieboomweg onder sand begrawe gevind.

Huldeblyke en boodskappe van simpatie het Donderdag op Facebook op Cremer se Facebook-profiel ingestroom.

Kudakwashe Garland Chihwai skryf: “Ek het jou nie persoonlik geken nie, maar ek sien dit meer en meer gebeur en dit maak seer. Hoekom gebeur dit met mense wat ’n eerlike bestaan probeer maak en goed is vir ander? RIV Meghan.”

Heather Campbell: “So jammer vir die Cremer-familie, woorde kan nie beskryf hoe julle moet voel nie. Mag God julle bemoedig en krag gee in die uiters moeilike tye.”

Cremer is Sondag as vermis aangemeld nadat sy Saterdag laas lewend gesien is. Sy het die perdeplaas om 18:34 in haar wit Toyota Auris verlaat. Sy is nie daarna weer lewend gesien nie.

Jeremy Sias, beskuldigde nommer een. Foto: Verskaf
Charles Daniels, beskuldigde nommer twee.Foto: Verskaf
Shiraaz Jaftha, beskuldigde nommer drie. Foto: Verskaf

Die drie mans – Jeremy Sias (27), Charles Daniels (39) en Shiraaz Jaftha (34) – wat by haar moord betrek word, het Donderdag in die landdroshof in Athlone, Kaapstad, op aanklagte van motordiefstal, die besit van gesteelde goedere en moord verskyn.

Die hof het gehoor daar is ’n getuie wat die drie regstreeks met die moord verbind. Die saak is tot 15 Augustus vir borgtog-inligting uitgestel. Sias het glo Donderdag omstreeks 01:00 aan die polisie gaan wys waar Cremer se lyk begrawe is. Haar voertuig is Maandag in die vroeë oggendure in die drie mans se besit in Buckweg, Lotusrivier, gevind.

Bronne het Donderdag gesê ’n vierde persoon is ook vir ondervraging ingeneem, maar is laat gaan.

Netwerk24 het vroeër berig Cremer se bankkaart is reeds die Saterdag van haar verdwyning in Strandfontein gebruik. Dit blyk nou egter dat dit nie by ’n kitsbank in Strandfontein gebruik is nie, maar wel by ’n kitsbank in Strandfonteinweg, Ottery. Haar bankkaart is ook die volgende dag, Sondag 4 Augustus, by die Shoprite-winkel in Pelikanpark en Pick n Pay in Lotusrivier gebruik.

Die Saterdagaand van haar verdwyning is haar voertuig glo by ’n padversperring in Wynberg afgetrek. Sy is toe egter nog nie as vermis aangemeld nie en die voertuig en die mense daarin is laat gaan.

Jaftha is glo ’n vermeende dwelmhandelaar en ook ’n lid van die Six Bob-bende van Lotusrivier. Luidens die klagstaat is hy van Phumlani Village, Lotusrivier.

Volgens Daniels se Facebook-blad is hy ’n lid van die 28-tronkbende. Sowel hy as Sias is volgens die klagstaat van die Egoli- informele nedersetting in Philippi. Dié nedersetting is sowat 2,5 km van die perdeplaas af.

meghan cremer
x
Meer oor:  Jeremy Sias  |  Shiraaz Jaftha  |  Charles Daniels  |  Meghan Cremer  |  Philippi  |  Kaapstad  |  Vermiste Vrou  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.