Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Crowd1: Sy belê R1 800 en kry R5,96

Vyf rand nege-en-sestig. Dis die opbrengs wat Natasha Beukes (30), ’n verkoopsagent van Kraaifontein in die Kaap, in drie maande verdien het vir haar belegging van R1 800 in die Crowd1-skema.

Natasha Beukes is verseker sy hóéf niemand te werf om onder haar aan te sluit nie en dat sy geld sou verdien het uit die aanlynspeletjies en dobbelary. Haar uitbetaling was egter nie eens ses rand nie. Foto: Edrea du Toit

“Hulle het my verseker ek hóéf niemand te werf nie, ek gaan mos iets verdien uit die aanlyn speletjies en dobbelary,” sê Beukes. Maar toe dit by die betaalslag kom, kry sy 0,3. Dis minder as R6.

Die R1 800 het sy nog nie weer gesien nie. Sy kan dié glo eers terugeis wanneer die maatskappy sy “voorbekendstellingsfase” afgehandel het.

Johan Staël von Holstein, uitvoerende hoof, het op ’n aanlyn geleentheid verlede Saterdag gesê hoewel die maatskappy al 18 maande oud is, fokus hulle eers nog op groei deur meer lede te werf. Dit is die “voorbekendstellingsfase” waarna Beukes verwys.

Die enigste mense wat geld maak, is dié wat ander oorreed om ook in te koop.

Sy sê dit was vir haar nuus dat die maatskappy nog nie volledig funksioneer nie.

“Hulle het vir my gelieg; dit is nie waarvoor ek betaal het nie. Hulle probeer net nog mense betrokke kry. Die enigste mense wat geld maak uit Crowd1 is dié wat ander oorreed om ook in te koop,” sê sy.

Von Holstein het hul sakemodel met die hoender-eier-scenario vergelyk.

“Wat kom eerste, die hoender of die eier? Kom die verkoops-maatskappy eerste of die produk wat jy verkoop?”

Volgens Von Holstein is die maatskappy die belangrikste en daarsonder sal geen produk verkoop kan word nie. “Die fokus is nou om die maatskappy te groei voordat produkte beskikbaar raak.”

Johan Staël von Holstein, uitvoerende hoof van Crowd1.

Yvette Botha (24) van Hermanus moes hoor sy verstaan verkeerd toe sy tydens ’n aanlyn vergadering vrae gevra het nadat sy net meer as R3 teruggekry het nadat sy ook R1 800 ingesit het.

“Toe ek die eerste keer vrae vra, het niemand my geantwoord nie. Toe ek weer vra, is vir my gesê ek verstaan verkeerd.”

Botha, wat ’n BCom-graad in bemarking het, sê sy verstaan bemarking. “Hulle sê hulle is ’n meervlakkige bemarkingsmaatskappy, maar hulle kan nie vir jou sê wat jy bemark nie. Hulle sê net jy bemark hierdie fantastiese maatskappy.”

Wat Botha onder meer pla, is dat lede van Crowd1 die inligting oor die pakkette wat verkoop word éérs kry nadat hulle daarvoor betaal het. Die pakket wat sy gekry het, handel oor vaste eiendom en sluit onderwerpe in soos “Hoekom jy in vaste eiendom moet belê” en “Belangrike faktore vir welvaart en rykdom”.

“Wat moet ek daarmee doen? Ek stel nie eens daarin belang nie,” sê sy.

Om deel te word van Crowd1 koop lede ’n pakket teen ’n minimum van 99 (nagenoeg R1 800).

Vir dié prys ontvang hulle sewe video’s van tussen twee en vyf minute elk met wenke oor hoe om suksesvol te wees. Hoe meer mense hulle kan oortuig om ’n pakket te koop hoe meer kommissie verdien hulle.

Nog ’n voordeel vir lede is afslag op ander produkte, soos aanlyn speletjies wat deur derde partye vervaardig word, maar dié sal glo eers later vanjaar beskikbaar wees.

Terwyl hulle vir die bekendstelling van nog produkte wag, word lede aangemoedig om die “skare” te vergroot deur nóg mense sover te kry om by Crowd1 aan te sluit.

Jonathan Ström, hoof van Afrika-uitbreiding by Impact Crowd Technology, sê in ’n e-pos aan Rapport die voordele van sulke opvoedkundige pakkette is die kennis wat mens opdoen.

Nie almal is, soos Beukes en Botha, ontevrede met hul opbrengs nie. Ann Hargreaves van Johannesburg, wat middel verlede jaar by Crowd1 aangesluit het, sê sy het die afgelope 13 maande ’n sewesyfer-inkomste verdien.

Sy het Jonas Eric Werner, Crowd1-stigter, tydens ’n leierskapskursus op ’n bootreis ontmoet. “Ek het die top-ouens ontmoet en hulle het ’n hart vir mense,” het Hargreaves aan Rapport gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.