Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Cyril steek weer nek uit oor g’n parool vir verkragters

Enigiemand wat ’n vrou verkrag, vernietig haar lewe en spreek ’n lewenslange vonnis oor haar uit omdat die slagoffer vir ewig met die trauma daarvan moet saamleef.

Daarom meen Ramaphosa alle verkragters behoort “lewenslange tronkstraf sonder parool” opgelê te word.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DAILY SUN

Ramaphosa het Maandagmiddag so by die Lusikisiki Onderwyskollege in die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap gesê waar hy deelgeneem het aan ’n gesprek oor mans wat vroue en kinders vermoor, ander vorms van gendergeweld, asook mense met albinisme wat vermoor word.

Ramaphosa sê vroue in die land het nou opgestaan en sê hulle het genoeg gehad. “Hulle wil nie langer mishandel word nie.”

Sy administrasie staan bankvas agter vroue en alle pogings om gendergeweld uit te wis.

“Volgens ons statistieke is 2 700 volwasse vroue in 2018-’19 vermoor. Hoewel daar ’n afname teenoor die vorige jaar was, beteken dit dat ’n vrou gemiddeld elke drie uur in Suid-Afrika vermoor is.”

Die land is die laaste weke geruk deur die wrede moorde op vroue.

Ramaphosa het na die moorde op Uyinene Mrwetyana, ’n student van die Universiteit van Kaapstad, en talle ander jong vroue en kinders wat vermoor is, verwys.

“Daarom moet ons drasties optree om gendergeweld in Suid-Afrika op ’n baie meer dramatiese wyse te takel.”

Dit is die rede waarom hy vir ’n spesiale gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies by die parlement gevra het om Woensdag plaas te vind “sodat alle politieke partye voorstelle indien oor hoe die kwessie gepak kan word.

“Ek het die land onlangs toegespreek oor van die ingrypingsmaatreëls wat ons meen in plek gestel moet word.

“Ons sal (Woensdag) in die parlement nog maatreëls aankondig. Hierdie is ’n nasionale krisis. Vroue vra dat ’n noodtoestand afgekondig moet word.

“Ons moet met ingrypings vorendag kom om aan te dui dat Suid-Afrika ernstig is om die euwel van gendergeweld te bestry.”

Volgens Ramaphosa sal van die insae wat in Lusikisiki gelewer is, ook in ag geneem word vir die verdere ingrypingsmaatreëls.

“Ons het julle gehoor dat daar nooit borgtog aan enigiemand toegestaan moet word wat ’n vrou verkrag het nie.

“En ja, die vonnisse vir diegene wat vroue vermoor of verkrag het, moet swaar vonnisse wees. Wat my betref, moet dit lewenslange tronkstraf sonder parool wees.”

Ramaphosa het gesê September is die maand van albinisme waarin Suid-Afrikaners die probleme wat deur mense met albinisme ervaar word, moet uitlig.

“Van dié kwesbare mense word in verskeie provinsies vermoor en selfs jag op gemaak. Ons kan nie so voortgaan nie. Dit is uiters kommerwekkend. Dit moet op politieke en maatskaplike vlak getakel word.”

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, meen Ramaphosa se huidige pogings om gendergeweld landwyd te takel, gaan daaroor om verlore aansien te herwin veral omdat hy aanvanklik traag gereageer het op oproepe vir drastiese ingryping teen die probleem.

Ramaphosa het verlede week aangekondig dat hy nie later vandeesmaand na die Verenigde Nasies sal reis nie omdat hy eerder op plaaslike kwessies wil konsentreer.

Mathekga sê Ramaphosa wil nou uitreik en ware empatie met landsburgers en slagoffers betoon omdat hy vroeër onsensitief voorgekom het.

“Mense wil in moeilike tye beslissende leierskap sien en dit is wat hy nou probeer doen,” het Mathekga gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.