SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Cyril verwelkom swaar vonnis vir Uyinene-moordenaar

Die drie keer lewenslange tronkstraf wat die student Uyinene Mrwetyana se verkragter en moordenaar opgelê is, is volgens pres. Cyril Ramaphosa gepas vir dié gruwelike misdaad.

Ramaphosa het dit Maandag in sy weeklikse nuusbrief geskryf nadat Luyanda Botha (42) Vrydag na ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat in die hooggeregshof in Kaapstad dié vonnis opgelê is. Hy het ook vyf jaar tronkstraf vir regsverydeling gekry.

Dit volg nadat hy Mrwetyana, ’n student van die Universiteit van Kaapstad, op 24 Augustus in die Clareinch-poskantoor in Claremont, waar hy gewerk het, verkrag en vermoor het.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - NOVEMBER 15: Luyanda Bot
Luyanda Botha in die hof Vrydag. Botha is drie lewenslange vonnisse opgelê en ‘n verdere vyf jaar vir die moord en verkragting van Uyinene Mrwetyana. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Ramaphosa sê verder dat die lewenslange tronkstraf die geregtigheid dien en dat dit ’n afskrikmiddel moet wees vir mans wat vroue in Suid-Afrika verkrag en/of vermoor.

Volgens hom bly hy egter vasbeslote dat lewenslange tronkstraf letterlik lewenslank moet beteken.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het beveel dat Botha se vonnisse samelopend uitgedien moet word en dat hy eers ná 25 jaar vir parool in aanmerking mag kom.

Ramaphosa glo dat die pyn wat Suid-Afrika as ’n nasie weens die wrede moord op onder andere Uyinene, Jesse Hess, Leighandre Jegels en Janika Mallo beleef, nog baie vars is.

“Ons durf nie op ons louere rus nie. Die geweld deur mans teenoor vroue bly ’n euwel en is ’n nasionale krisis wat ons dringend moet takel. Die nasionale aksieplan teen geslagsgeweld wat ek op ’n spesiale sitting van die parlement in Oktober aangekondig het, word geïmplementeer.”

Uyinene Mrwetyana. Foto: Facebook

Volgens hom het die verantwoordelike regeringsdepartemente saam R1,6 miljard geherprioritiseer om die plan te finansier en te implementeer.

“Die plan fokus op die verbetering van toegang tot regsdienste vir die oorlewendes van geweld en voorkomingsveldtogte om die houding en gedrag van die samelewing te verander.”

Dit behels maatreëls om die strafregproses te versterk en om die skep van ekonomiese geleenthede vir kwesbare vroue te prioritiseer.

“Ek het opdrag gegee dat ek weekliks terugvoering oor die implementering van die plan moet kry. Daar is reeds merkbare vordering met ’n aantal aspekte van die plan.”

Die president sê as deel van die plan sal agtergrondondersoeke voortaan ook op alle staatsamptenare gedoen word wat met kinders en geestelik versteurde mense werk.

“Tot op datum is 1 222 amptenare aan sulke agtergrondondersoeke onderwerp. Dit sluit aanklaers en polisiebeamptes in.”

Ramaphosa sê vroue leef in vrees.

“Dit is hul regmatige verwagting dat hulle teen geweld beskerm moet word en dat die oortreders gestraf word. Ek het persoonlik verantwoordelikheid geneem om te verseker dat die noodplan geïmplementeer word en ek sal landsburgers gereeld op hoogte hou van hoe dit vorder.”

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press

Hy sê verder dat geslagsgeweld nie teen ryk of arm diskrimineer nie.

“Dit is nie net ’n probleem vir die townships of voorstede of landelike nedersettings nie. Dit het ’n impak op ons almal en ons het genoeg gehad van die diep skadelike gevolge van gebroke families, geteisterde gemeenskappe en verwoeste lewens,” skryf Ramaphosa.

“Ons sukses hang af van die betrokkenheid van elke Suid-Afrikaner. Dit is ons almal se verantwoordelikheid. Ons moet almal betrokke raak. Laat ons nie wegkyk nie.”

Meer oor:  Luyanda Botha  |  Cyril Ramaphosa  |  Verkragting  |  Geslagsgeweld  |  Moord  |  Uyinene Mrwetyana  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.