Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nood-aksieplan: 'Die president praat uiteindelik reguit'

Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê die herstel van reg en orde is duidelik die oorwoë bedoeling van pres. Cyril Ramaphosa se toespraak Woensdag in die parlement.

“Die president het reguit oor die maatskaplike probleme in die land gepraat. Dit was lankal nodig.”

Ramaphosa het gesê die vlaag van gendergeweld en wetteloosheid in Suid-Afrika moet dringend en beslissend getakel word voordat woede, hopeloosheid en wanhoop die land totaal verswelg.

Ramaphosa het dít as sleutelrede genoem oor waarom hy ’n buitengewone gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aangevra het vir ’n debat oor gender- en xenofobiese geweld.

Hy het sy nood-aksieplan aangekondig met verdere daadwerklike ingrypings teen veral gendergeweld.

As deel van dié plan, wat oor die volgende ses maande in werking gestel sal word, het die kabinet Woensdagoggend ’n bykomende R1,1 miljard goedgekeur om gendergeweld “omvattend” in die huidige boekjaar te kan bestry.

Die plan sluit ook maatreëls in oor hoe om gendergeweld te bekamp; die strafregstelsel te versterk, stappe om die regs- en beleidsraamwerk te versterk; stappe om behoorlike sorg en ondersteuning aan die slagoffers van geweld te verskaf én maatreëls om die ekonomiese mag van vroue in Suid-Afrika te verbeter.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: ADRIAN DE KOCK

Dit behels onder meer ook die bekendstelling van ’n massa-mediaveldtog oor gendersensitiwiteit-opleidingsprogramme in gemeenskappe, openbare ruimtes, werkplekke, kampusse, sjebiens en regoor die strafregstelstel om veral mans en seuns daaroor op te voed.

Soortgelyke voorkomingsopvoeding word vir skole beplan, terwyl aktiviste in al 287 munisipaliteite opgelei sal word om gendersensitiwiteit in huishoudings te bevorder.

’n Tussentydse komitee wat in die presidensie gesetel is en waarvan die regering en burgerlike organisasies die medevoorsitters sal wees, sal die plan dryf.

Ramaphosa het Woensdagoggend eers met alle opposisieleiers by die parlement vergader waar die nood-aksieplan eers aan hulle voorgelê is.

Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier, het tydens die debat gesê ’n gebrek aan wedersydse respek en dissipline, sowel as onbevoegdheid en korrupsie in die polisie en die strafregstelsel, is van die hoofoorsake van veral geslagsgeweld in Suid-Afrika.

“Die VF Plus het sedert pres. Ramaphosa se eerste staatsrede gesê daar rus 'n verpligting op die president van die land ten opsigte van nasiebou.

“Nogtans ervaar die Afrikaner sedert 1994 onderdrukking in die land weens 'n verskeidenheid redes soos die ondermyning van sy taal.

“Die rede waarom dit gebeur en wat aansluit by die probleem van geslagsgeweld, is ’n gebrek aan respek. Daar is 'n gebrek aan selfrespek, respek vir mekaar en mekaar se verskille.”

Mmusi Maimane, die DA-leier, het in sy spreekbeurt gesê Suid-Afrika het weens die daaglikse geweld teen vroue, kinders en buitelanders sy weg as nasie verloor en is op die rand van ineenstorting.

Hy het versoek dat ’n ad hoc-komitee in die parlement gestig word om die sistemiese oorsake van gendergeweld en langtermynoplossings daarvoor te ondersoek.

Sy party beplan ook om voor einde vanjaar ’n wetsontwerp oor gendergeweld in die parlement ter tafel te lê.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het gesê dat die tyd van praat verby is en dat hy om dié rede Donderdag “die grootste, mees omvattendste en duurste” provinsiale veiligheidsplan vir enige provinsie nog in die Wes-Kaap bekend sal stel. Dit volg omdat die ANC-regering gefaal het om landsburgers veilig te hou.

Ntombovuyo Mente, ’n EFF-LP, het gesê dis onwaar dat die verkragting, moord en mishandeling van vroue onlangs eers ’n krisis geword het “omdat dit ’n krisis is wat oor dekades in townships en landelike gebiede onder swart vroue genormaliseer is”.

Llewellyn Prince, Philda Essop en Sarel van der Walt

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Misdaad  |  Gendergeweld  |  Wetteloosheid  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.