Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
DA dien klag in teen Ace, Olly oor asbesprojek

Die DA in die Vrystaat het Woensdag ’n strafregtelike klag teen Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, en Olly Mlamleli, voormalige Vrystaatse LUR, oor die omstrede asbesdak-telprojek van R255 miljoen van die Vrystaatse provinsiale regering ingedien.

Leona Kleynhans, Vrystaatse DA-wetgewerlid. Foto: Verskaf

Leona Kleynhans, Vrystaatse DA-wetgewerlid, was vergesel deur David van Vuuren, DA-hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer, toe die klagte by die Bloemfonteinse kantoor van die Valke ingedien is.

Kleynhans sê haar klag word volgens die Valke nou gevoeg by ’n ander saak oor die asbesdak-telprojek waarmee hulle al ver gevorder het.

Sy sê in ’n verklaring wanneer korrupsie in Suid-Afrika blootgelê word, is dit standaardpraktyk dat geïmpliseerde amptenare alleen aan die pen moet ry, terwyl politici hulle doof, dom en blind hou.

“Ek het vandag gevra dat die Valke twee senior politici in verband met die asbesdak-telprojek moet ondersoek, Magashule, nou die sekretaris-generaal (SG) van die ANC, en Mlamleli, nou uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro in Bloemfontein, wat lyk asof hulle opsetlik maak of hulle hulle blind hou vir die asbesdak-telprojek.”

Kleynhans sê die openbare beskermer (OB) het verlede week ná ’n ondersoek na dié projek haar verslag bekend gemaak waarin sy sê dat sy ernstige wanbestuur, growwe nalatigheid van fidusiêre pligte en die wangebruik van staatsgeld van sowat R208,6 miljoen gevind het.

“Magashule was bewus daarvan dat die kontrak tussen die Vrystaatse departement van menslike nedersettings en die Blackhead Consulting/Diamond Hill-vennootskap in 2014 onwettig was en dat die helfte van die betalings reeds uitbetaal was,” sê Kleynhans.

“Ondanks die ampseed wat hy afgelê het, en sy morele plig om die inwoners en die hulpbronne van die provinsie te beskerm, het hy eenvoudig die blatante plundery van staatsgeld geïgnoreer.”

Olly Mlamleli. Foto: Argief
Ace Magashule Foto: Argief

Kleynhans sê terwyl Magashule die mag gehad het om ten minste die uitbetalings stop te sit, het hy ’n blinde oog voorgehou toe die DA in Julie 2015 hieroor hof toe is.

“In my verklaring aan die Valke vandag sê ons dat hy van die hofsaak moes geweet het, omdat alle regsgedinge waarby die Vrystaatse regering betrokke is, deur die kantoor van die premier moet gaan,” sê Kleynhans.

Hy het ook die bevinding op 31 Julie 2015 deur die OG geïgnoreer dat die kontrak onreëlmatig en onwettig was.

“Ons glo dat sy blindheid die gevolg kan wees van sy medepligtigheid aan en implementering van die kontrakte om die Vrystaatse provinsiale regering van R208,6 miljoen te besteel.”

Kleynhans sê Mlamleli was in daardie stadium die LUR vir koöperatiewe regering, tradisionele sake en menslike nedersettings.

“In ons hofsaak van Julie 2015 waarin ons probeer het om betalings in die asbes-kontrak stop te sit, was Mlamleli die tweede respondent. Toe argumente oor dringendheid in die hooggeregshof in Bloemfontein op 7 Julie aangehoor is, het Mlamleli in die hof na die verrigtinge geluister.”

Die DA se regstappe, sowel as die bevindings van die OG in dieselfde maand, het nie die voormalige LUR of premier daartoe genoop dat hul morele kompas hulle moet lei nie of om ten minste die wetlikheid van die kontrak te ondersoek of ’n klag by die polisie oor die volgehoue betalings in te dien nie.

“Hulle het eenvoudig hul ore en oë gesluit vir die meer as R200 miljoen wat van Vrystaters geroof is.”

Vandag sê ons as die DA dat die amptenare nie alleen volgens wet vervolg moet word om geregtigheid te laat geskied nie.

Kleynhans sê in die OB-verslag word aanbeveel dat Nthimotse Mokhesi,die departementshoof, strafregtelik ondersoek moet word.

Sy sê pres. Cyril Ramaphosa het ook in Julie 2019 ’n proklamasie uitgevaardig waarvolgens die Valke die kontrak en sy gevolge moet ondersoek.

“Vandag sê ons as die DA dat die amptenare nie alleen volgens wet vervolg moet word om geregtigheid te laat geskied nie.”

Die DA glo hul politieke hanteerders was ook by die onderduimse skema betrokke en dat die politici ook ondersoek moet word.

Magashule en Mlamleli kan nie sê hulle het nie van die onwettige kontrakte geweet nie.

Albei het uitvoerende magte gehad om ondersoeke aan te vra en om riglyne te gee oor die betalings.

Albei het ook verantwoordelikhede kragtens die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite gehad om klagte oor die betalings by die polisie in te dien.

*Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het teenoor Netwerk24 bevestig dat Kleynhans die klag ingedien het, maar sê sy kan nie in dié stadium bekend maak teen wie die klag ingedien is nie.

Meer oor:  Da  |  Olly Mlamleli  |  Leona Kleynhans  |  Ace Magashule  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.