Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
DA in Limpopo eis nóú antwoorde oor plaasaanvalle

Die tyd vir leë beloftes dat plaasaanvalle hokgeslaan gaan word, is verby. Dit is nou tyd vir aksie, sê Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo.

Ná ’n vlaag plaasaanvalle die afgelope twee maande in dié provinsie eis hy nou ’n dringende vergadering met lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo.

“Ons vra al lank dat die polisie meer doen oor landelike veiligheid, maar dit val op dowe ore,” sê hy.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo. Foto: VERSKAF
Joekie Nortjé (80) nadat sy op 'n plaas buite Louis Trichardt aangeval is. Foto: VERSKAF
Annette Kennealy (50) is op haar hoewe buite Louis Trichardt vermoor. Foto: VERSKAF
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo. Foto: VERSKAF

Smalle wil ook by Ledwaba weet hoe die ondersoeke na die plaasaanvalle vorder.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, gaan ook met die polisie vergader om te vra dat boere beter beveilig word.

In een van die mees onlangse plaasaanvalle is ’n gesin die naweek in die Tarentaalrand-gebied buite Tzaneen aangeval en beroof.

Dié aanval kom kort nadat Ferdie Jacobs (35), ’n plaasbestuurder, Donderdag op ’n plaas buite Louis Trichardt aangeval en beroof is.

Hy is in die plaashuis op die Witvlag-pad met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en het steekwonde aan sy hande en bene opgedoen.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die aanvallers het met geld na die nabygeleë bosse gevlug.

Bykans twee weke gelede, op Vrydag 31 Mei, is die bekende Daling-broers van Settlers in ’n aanval geskiet en beroof.

Dirk Daling (64) is geskiet en van loongeld beroof toe hy van die dorp af op pad terug na die plaas sy broer, Marten (52), sou kry om die geld aan hom te oorhandig. Marten is ook geskiet.

Albei broers is gehaas na hospitale in Pretoria, waar hulle geopereer is. Hulle sterk goed aan. Die rowers het met duisende rande gevlug en is nog nie aangekeer nie.

Die bejaarde Joekie Nortjé (80) van Louis Trichardt en haar een seun, Johan (62), is op Maandag 27 Mei op hul hoewe, sowat 10 km buite die dorp op die Vivo-pad, aangeval en verskeie kere met skerp voorwerpe gesteek. Die polisie het een van die vermeende aanvallers in hegtenis geneem.

’n Week voor die aanval op die Nortjés is Annette Kennealy (50), ’n kampvegter teen plaasmoorde, op haar hoewe buite Louis Trichardt vermoor.

Kennealy, wat ’n voormalige DA-raadslid op die dorp was, is met ’n hamer doodgeslaan. Die polisie en die plaaswag het onverpoos gewerk en Kenny Ramatshimbila (40), een van haar werkers, is in hegtenis geneem.

Hy is in aanhouding en sal in Julie in die Louis Trichardt-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Op 8 Mei het Basie Nelson (70) op ’n plaas buite Dendron, sowat 60 km noordwes van Polokwane, ernstige kopwonde in ’n aanval opgedoen.

Meer oor:  Joekie Nortjé  |  Dirk Daling  |  Ferdie Jacobs  |  Limpopo  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.