Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
DA-man dien klagte in ná stakers sy vingers, ribbe breek

Stakende munisipale werkers het ’n DA-raadslid in die Brits-omgewing glo die afgelope week aangerand en as gyselaar gehou.

Die beseerde Paultjie Hendriks van die DA voor die polisiekantoor in Brits waar hy die klagte teen munisipale werkers van die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit ingedien het.

Paultjie Hendriks, ’n raadslid van die Bojanala Platinum-distriksmunisipaliteit, het intussen klagte van aanranding en menseroof teen die munisipale werkers aanhangig gemaak. Twee van Hendriks se vingers, van sy ribbe en sy elmboog het gebreek tydens die aanranding in die raadsaal in Brits, sê Leon Basson, die DA se onderleier in Noordwes, in ’n mediaverklaring.

Volgens hom het die drama verlede Woensdag begin toe die moontlike skorsing van hooggeplaastes weens die beweerde onregmatige besteding van R134 miljoen bespreek is. Die DA het op hierdie vergadering ook die burgemeester se kop geëis weens die munisipaliteit se benarde geldelike situasie, wat daartoe gelei het dat amptenare en raadslede sedert einde September nie meer betaal kan word nie.

“Toe die DA vir ’n pouse vra om te koukus en die raadsaal probeer verlaat, het van die stakende werknemers Hendriks fisiek aangeval,” sê Basson. “Hulle het hom ook drie uur as gyselaar gehou en geweier om hom te laat gaan of ’n ambulans te bel.”

Basson sê die DA het begrip vir die amptenare se frustrasie omdat hulle weens die munisipaliteit se wanbesteding nog nie hul salarisse ontvang het nie. “Dis egter heeltemal onaanvaarbaar dat hulle raadslede fisiek aanval.”

Volgens Basson het polisielede in die omgewing van die raadsaal ook niks gedoen om die groep oproermakers in toom te hou nie. “In Suid-Afrika geld die oppergesag van die wet. Werknemers moet hulle daarvan weerhou om hul ontevredenheid te wys deur gewelddadige aanvalle en die vernietiging van eiendom. Hulle moet wettige maniere kry om uiting aan hul frustrasies te gee.”

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie ondersoek voorlopig net ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Ons was (tot nou toe) nie bewus van die bewerings teen die polisie nie, maar sal ondersoek daarna instel.”

Niemand het die telefone by die distriksmunisipaliteit se skakelbord, of by die kantoor van die munisipale bestuurder beantwoord toe hulle vir kommentaar gebel is nie.

Meer oor:  Brits  |  Betoging  |  Gyselaar  |  Stakers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.