Die DA in die Oos-Kaap gaan sy eie ondersoek doen nadat een van sy LP’s vandeesweek op aanklag van poging tot moord in die hof verskyn het.
Mlindi Nhanha (51), DA-lid in die Nasionale Raad van Provinsies, is Dinsdag op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy in die landdroshof in Alice verskyn het.
Volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Nhanha glo Sondagoggend ’n skoot op sy swaer, Mxolisi Daniel (40), by ’n huis in die Dyamala-nedersetting in Alice afgevuur.

Mlindi Nhanha (51), DA-LP, het op aanklag van poging tot moord in die landdroshof in Alice verskyn. Foto: pa.org.za
Luidens ’n verklaring van die NVG het Nhanha sy vrou, Vatiswa, na bewering in ’n stryery aangerand, waarna Daniel hom weggejaag het. Nhanha het hierna glo sy vuurwapen in sy motor gaan haal en ’n skoot op Daniel afgevuur, maar misgeskiet.
Die saak teen Nhanha is tot 7 Junie uitgestel.
Hoewel Daniel intussen ’n verklaring ingedien het waarin hy die saak teen Nhanha terugtrek, gaan die NVG die dossier ondersoek en besluit of hy verder gaan vervolg.
Nhanha het glo reeds om vrywillige verlof by die DA aansoek gedoen.
Andrew Whitfield, die DA se provinsiale voorsitter, sê die aantygings teen Nhanha word in ’n baie ernstige lig beskou. Hy sê die voorval sal ingevolge die party se interne prosedure ondersoek en hanteer word.
’n Verslag is by die party ingegee waarin Nhanha sy kant van die saak stel en die gebeure verduidelik.
Whitfield sê Nhanha gee sy volle samewerking aan die party en die verslag sal nou na die provinsiale uitvoerende komitee verwys word. Die party sal ook die hofsaak dophou.