Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
DA skep platforms vir klagtes oor wetstoepassers

Die DA het ’n WhatsApp-groep en ’n e-pos-adres geskep waar lede van die publiek klagtes kan indien teen onregmatige polisieoptrede. Die platforms kan ook gebruik word om inligting oor individue se regte tydens die staat van inperking te kry.

“Ons sal hierdie platforms gebruik om landsburgers in te lig oor hul regte tydens die inperking, en vir landsburgers om hul klagtes in te dien wanneer hulle voel die polisie of weermag tree verkeerdelik op,” lui ’n verklaring van die DA.

Die platform sal gemonitor word deur ’n taakspan wat bestaan uit DA-LP’s in die portefeuljes van sekuriteit en justisie. “Hulle is kenners in hul gebiede en sal kundige raad aan die publiek kan verskaf,” lui die verklaring.

Die platforms is gestig weens die toename in gewelddadige voorvalle waarby polisiemagte betrokke is.

In verskeie voorvalle word die publiek in hul eie huise gedreig en aangerand.

“Ons is slegs ses dae in die inperking en ons het reeds ’n drastiese toename gesien in gevalle van geweld deur diegene wat aangewys is om die land te beskerm en te dien. Daar is verslae dat die polisie Dinsdag twee verpleegsters in Welkom geskiet het en dat ’n metropolisiebeampte Sondag in hegtenis geneem is vir die moord op ’n man van Vosloorus,” lui die verklaring.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat daar geen saak teen die metropolisiebeampte aanhangig gemaak is nie en dat hy vrygelaat is.

Siphiwe George Ndlovu, ’n veiligheidswag, is wel aangekla vir die moord op die man van Vosloorus en het Dinsdag in die streekhof in Boksburg verskyn.

Volgens die verklaring is daar ook verskeie video’s op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe die polisie en weermag gewelddadig optree. “In verskeie voorvalle word die publiek in hul eie huise gedreig en aangerand. Dit is juis daarom dat ons hierdie platforms nodig het en om dit te monitor sodat die owerhede aanspreeklik gehou kan word.”

Volgens ’n verslag van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) Maandag is daar reeds 21 klagtes landswyd by hulle ingedien. Die meeste klagtes kom uit Gauteng waar tien voorvalle aangemeld is, waaronder moord, aanranding en korrupsie.

“Ons is tans in vergaderings om hierdie ernstige sake te bespreek. Ons sal binnekort ’n bygewerkte syfer kan gee,” sê Sontaga Seina, woordvoerder van Opod.

Die kontakbesonderhede van die DA-platforms is:

* WhatsApp: 067 977 9324

* E-pos: reportpoliceabuse@da.org.za

Meer oor:  Polisie  |  Da  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.