Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dalk kan Rent-a-Cop help om Kaapse boewe vas te vat

Die Kaapse metroraad het voorgestel dat die Rent-a-Cop-inisiatief ook gebruik word om rampokkery in die middestad en omliggende gebiede hok te slaan.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die stad is baie bekommerd oor toenemende berigte van afpersingsindikate wat ondernemings veral in die Kaapse middestad dreig.

Kafees, kroeë en restaurante in die stad wat kla dat hulle gedwing word om “beskermingsgeld” van minstens R20 000 per maand te betaal aan mense in die Kaapse onderwêreld, sal dan eerder sowat R16 600 per maand vir ’n wetstoepassingsbeampte kan opdok.

’n Sindikaat het ook Beerhouse in Langstraat om beskermingsgeld genader. Foto: Verskaf

Smith sê die stad het voorlopig voorgestel dat ondernemings dit oorweeg om die bestaande Rent-a-Cop-inisiatief te gebruik.

Volgens hom kan wetstoepassers doeltreffender gebruik word as private veiligheidsmaatskappye om veiligheid te verskaf.

Randolf Jorberg, voorsitter van die Langstraat-vereniging en eienaar van Beerhouse, sê dié inisiatief is na sy mening doeltreffend teen kleiner misdade en straatmisdade, maar sal nie teen georganiseerde misdaad slaag nie.

Jorberg was die eerste sakeman wat teen die beskermingsindikaat opgestaan het en ’n WhatsApp-groep met die naam Cape Town Racketeers begin het om hul dade bloot te lê.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad Foto: Jaco Marais

Hy het verskeie politici, wetstoepassers en senior polisiebeamptes by die groep ingesluit.

Jorberg stem saam met Smith dat georganiseerde misdaad en rampokkery deur die polisie en die Valke vasgevat moet word.

Smith sê ingevolge die Rent-a-cop-inisiatief kan ondernemings of organisasies vir die dienste van toegewysde wetstoepassingsbeamptes betaal.

“Dit is egter geensins die allerbeste oplossing vir die rampokkers wat beskermingsbelasting eis en deur georganiseerde misdaadsindikate bestuur word nie. Baie sinvoller ondersoeke en vervolging word nou deur die strafregstelsel vereis,” sê Smith.

Om dit permanent te stop moet dit op die hoogste vlak erken word en aandag kry. “Die stad het reeds hieroor met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vergader om te kyk wat gedoen kan word om die lot van sake-eienaars wat reeds swaar deur die koronaviruspandemie getref is te verlig. Hierdie blatante afpersing is vir hulle die laaste strooi.”

Hy sê verdere vergaderings word met SAPD beplan omdat die polisie in die beste posisie is om die kwessie te hanteer.

Meer oor:  Kaapstad  |  Rent-A-Cop  |  Boewery  |  Middestad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.