Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dapper polisiehond sterk aan ná mesaanval

’n Sesjarige Belgiese herdershond van Port Alfred se K9-eenheid is in ’n stabiele toestand nadat sy vroeg Saterdagoggend deur ’n rower met ’n mes gesteek is.

Omstreeks 04:00 Saterdagoggend het lede van dié eenheid spore van verdagtes in ’n huisbraaksaak na die strand gevolg, lui ’n verklaring van die polisie in die Oos-Kaap.

Ounooi, die sesjarige Belgiese herdershond van Port Alfred se K9-eenheid.Foto: Twitter/SA Police Service

Die hanteerder het gesien hoe een verdagte langs die strand hardloop. Hy het hom gewaarsku om te stop, maar die verdagte het aanhou hardloop.

Die hanteerder het toe sy patrolliehond, Ounooi, vrygelaat. Toe sy by die vermeende oortreder kom, het hy Ounooi op haar bolyf met ’n mes begin steek.

Ounooi het ineengestort en die verdagte het in die water ingehardloop. Die steekwonde het spiere naby haar hart beskadig. Ounooi is na die plaaslike veearts geneem. Sy is tans in ’n stabiele toestand en is uit diens gestel om te herstel.

Die Nasionale Seereddingsinstituut is gevra vir hulp met die soektog na die verdagte, maar daar is nog geen teken van hom nie. Die soektog duur voort.

Brig. Morgan Govender, bevelvoerder van die kluster van Port Alfred, het Saterdag gesê: “Ounooi is al vier jaar in die polisiediens en het baie toewyding, dapperheid en waagmoed getoon. Sy het ’n belangrike rol gespeel in die inhegtenisneming van verskeie verdagtes. Die hanteerder sal traumaberading kry ná die voorval.

“Ounooi, jou kollegas in die kluster hoop dat jy vinnig sal herstel,” sê sy.

“ ’n Aanval op ’n polisiebeampte is ’n aanval op die staat,” lui die verklaring. “En ’n aanval op enige van ons honde of perde is ’n aanval op die staat. Hierdie getroue diere dien saam met hul menslike polisiebeamptes die polisiemag met passie, dissipline en toewyding.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.