Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
De Doorns-ma fnuik rowers wat haar seun ontvoer

’n Gesin van De Doorns is Donderdagmiddag deur ’n nagmerrie-ervaring toe hulle in hul huis deur vyf mans oorval is.

Die gesin se 25-jarige seun is ontvoer, die pa is ernstig aangerand en die aanvallers het gedreig om die ma te verkrag.

Bruce Brodie (55) het ’n fraktuur in sy skedel en ’n gebreekte kakebeen en sy seun, Philip (25), het ’n hou teen sy kop weg. Louise Brodie (54) is ongedeerd.

Die Brodie-gesin: Louise (54), Julia (was nie tuis ten tyde van die aanval nie), Philip (25) en Bruce (55). Foto: Facebook
Philip het Vrydag vertel toe hy Donderdag omstreeks 17:00 by die huis kom, het die vyf gewapende mans agter hom by die hek van hul eiendom, die Ochre-reservaat by De Doorns, ingeglip.

“Hulle het my en my ouma (wat reeds in die huis was) vasgebind en my gedwing om die kluis oop te sluit,” sê Philip.

“Toe ek nie kon nie, het een van hulle my teen die kop geslaan met sy wapen. Net daarna het my ma en pa by die huis aangekom.”

Die rowers het geld van hulle geëis en toe hulle sê daar is nie kontant in die huis nie, het die aanvallers Brodie geslaan en geskop.

“Ek het niks daarvan gesien nie,” sê Philip. “Maar ek is so jammer vir my ma. Sy moes toekyk hoe hulle my pa erg aanrand.”

Die aanvallers het net in geld en wapens belang gestel. Hulle het nie belang gestel in die selfone, rekenaars en juweliersware wat oop en bloot in die huis gelê het nie.

“Hulle het gedreig om my te verkrag,” sê Louise.

“Ek het gesê dit gaan nie help nie, daar is niks geld in die huis nie.”

Philip het sy ouma, wat aan demensie ly, probeer kalm hou omdat sy by die aanvallers wou weet wat aangaan.

Ek twyfel nie daaroor of hy gesond sal word nie. Hy is ’n fighter.
Philip Brodie
Die gesin se kluis is uiteindelik oopgemaak en die vyf het die inhoud daarvan gevat. Louise sê daar was onder meer persoonlike reisdokumente en ’n paar juwele in die kluis.

Al vier die gesinslede is hierna in ’n klein badkamer gestop en vasgebind. Brodie het erg gebloei. Die aanvallers het egter teruggekom en Philip aangesê dat hy moet kom bestuur.

“Ek het nie geweet watter kant toe nie,” sê Louise. “Kyk ek na my man wat erg beseer is of gaan ek agter my seun aan wat ontvoer word?”

Philip is met ’n wapen teen sy ribbekas gedwing om met die gesin se bakkie in die rigting van Worcester te ry.

“Hulle het aan my gesê ek moet na die plek ry waar hul ‘ouens’ vir hulle wag. Daar was niemand nie. Hulle dwing my toe om verder te ry,” sê Philip.

Louise het intussen met haar man en haar skoonma in ’n ander motor in Worcester se rigting na die hospitaal begin ry. Daar het sy by ’n stop-en-ry-stelsel by padwerke stilgehou.

“Ek het nooit gedink ek sal bly wees vir ’n stop-en-ry nie. Toe ons stop, sien ek my seun en die vyf mans in die bakkie, net so drie voertuie voor ons.”

Sy het besluit om hulle te agtervolg toe hulle verder ry.

“Toe ek langs hulle kom, het ek verwoed getoet en die ligte geflits. Ek wou aandag trek. Dit het gelyk of dit hulle afskrik, want hulle het by ’n stopstraat uitgespring en amper niks van ons goed saamgevat nie.”

Philip sê sy ma het hom gered.

“Sy is my held.”

Slegs een pistool is nog weg wat die vuurwapens betref. Dit is nog onbekend of daar ook ammunisie uit die kluis gesteel is.
Daarna is die hele gesin na die Mediclinic Worcester sodat Brodie behandel kon word. Louise sê hulle het ook die meeste van hul besittings teruggekry wat agterop die bakkie agtergebly het.

Bruce is toe na die Mediclinic Paarl oorgeplaas weens die ernstige aard van sy beserings.

“Ek twyfel nie daaroor of hy gesond sal word nie. Hy is ’n fighter,” sê Philip. “Ek is geseënd met baie sterk ouers.”

Volgens Louise is haar seun die held in die verhaal.

“Ek is so trots op hom dat hy sy ouma kalm kon hou terwyl alles gebeur het, en dat hy sterk kon bly al is hy ontvoer,” sê Louise.

Die egpaar se dogter, Julia, was nie by die huis ten tyde van die aanval nie.

Die polisie ondersoek ’n saak van roof en aanranding, sê kapt. Lindikhaya Mkhontwana, woordvoerder van die Worcester-polisie, in ’n verklaring.

Die polisie het nege vuurwapens en juweliersware op die bakkie gevind, sê Mkhontwana.

“Slegs een pistool is nog weg wat die vuurwapens betref. Dit is nog onbekend of daar ook ammunisie uit die kluis gesteel is,” sê Mkhontwana.

Enigeen met inligting wat tot die inhegtenisneming van hierdie verdagtes kan lei, kan kapt. Siyabonga Sidinile by 082 778 7361 of 023 356 4046/47 bel.

Meer oor:  De Doorns  |  Ontvoering  |  Misdaad  |  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.