Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Delvina se plekkie op skool vandag leeg’

Hartseer gesiggies en gebroke harte was Dinsdag aan die orde van die dag by die Elim Primêre skool waar sesjarige Delvina Europe verlede week wreed vermoor en verkrag is.

Klein Delvina se lykie is verlede Dinsdag omstreeks 07:45 in die digte bosse aan die buitewyke van dié dorpie gekry.

Die gedenkdienshoekie vir kleine Delvina.Foto: Verskaf

Die polisie het bevestig dat ’n 35-jarige verdagte in hegtenis geneem is in verband met haar moord.

Delvina is laas op Sondag 24 Maart omstreeks 16:30 gesien en ’n soekgeselskap bestaande uit Bredasdorpse polisielede en die gemeenskap het regdeur die nag na haar gesoek.

Vir Jane Dyers, Delvina se gr. 1-onderwysers, was die eerste dag van skool dié kwartaal nie net hartseer nie, maar baie swaar.

“Die stoeltjie waar sy gesit het, het Dinsdag leeg gestaan. Haar stemmetjie was stil en haar beste maatjie het vandag verskriklik gely. Hulle tweetjies was soos eendjies, al agter mekaar aan, en vandag was sy egter alleen,” het Dyers gesê.

Sy sê haar klas het prentjies en boodskappies vir Delvina geteken en in die meerderheid van die prentjies was daar net gebroke hartjies.

“Die hele klas en selfs ander kinders in die skool was bang om vandag alleen huis toe te loop, oor die bangmaakstories wat die rondes doen. Hulle wou nie alleen wees nie en vir baie was dit net te moeilik,” het Dyers gesê.

Volgens haar was Delvina ’n lewenslustige kind wat eendag heel moontlik self ’n onderwysers sou word omdat sy heel dag skool gespeel het.

Die stoeltjie waar sy gesit het, het Dinsdag leeg gestaan.

“Oor die afgelope drie maande was sy egter bietjie stiller en ietwat inkennig nadat haar ma skielik in Desember oorlede is. Haar ma se dood het haar swaar getref en toe tref die noodlot weer haar familie.”

Caureen Cloete, die skoolhoof, het gesê daar is ’n gedenkhoekie spesiaal vir Delvina by die skool ingerig met blomme en kerse.

Cloete sê die skool het ook goeie ondersteuning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement ontvang, wat gereël het dat maatskaplike werkers en sielkundiges berading gee waar nodig.

Die gedenkdienshoekie vir kleine Delvina.Foto: Verskaf

Sy sê die hele skool sal dié week hulde bring aan Delvina deur boodskappe en prentjies te teken, om haar te onthou en sodoende uiting te gee aan hul gevoelens.

Delvina sal Saterdag op die dorp begrawe word.

Die verdagte in die saak is ’n boorling van Elim en was glo ook bekend aan die oorledene en haar pa.

Hy is sowat ’n uur nadat Delvina se lyk in bosse gevind is, deur die polisie op Barrydale vir ondervraging aangekeer.

Hy het verlede Donderdag in die landdroshof op Bredasdorp verskyn op aanklag van moord en verkragting.

Die saak is uitgestel tot 8 April vir ’n borgtogaansoek.

Meer oor:  Delvina Europa  |  Elim  |  Moord  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.