Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Deurbraak kom dalk ná vergiftiging van honde
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Die polisie het moontlik ’n deurbraak gemaak in die vergiftiging van soveel as 34 honde in Centurion.

Sewe mans is Dinsdagoggend in die woonbuurt aangekeer vir hul beweerde betrokkenheid by ’n reeks huisbrake en honde wat vergiftig is.

Volgens kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, toon hul ondersoek tot dusver dat die verdagtes bedags in ’n wit Toyota Quantum-minibustaxi in die woonbuurt rondgery het om te kyk hoeveel inwoners hul motorfietse buite parkeer of op ’n plek wat van die straat af sigbaar is.

“Hulle keer dan in die aand terug en vergiftig die honde sodat hulle die motorfietse kan steel.”

Die mans is in hegtenis geneem nadat die Wierdabrug-polisiekantoor ’n klagte oor dié taxi, wat in die vroeë oggendure in die woonbuurt rondgery het, ontvang het.

“Hulle (die Wierdabrug-polisiekantoor) het die Quantum omstreeks 01:10 in die noorde van Rooihuiskraal sien rondry,” sê Huma.

Hou jou honde eerder agter in die erf aan of in die huis.

Volgens sommige inwoners wat in die omgewing van die Mall@Reds in Rooihuiskraal bly, is daar al 34 honde in ongeveer tien dae vergiftig. Hulle sê dis soms sommer by drie tot vier huise op ’n slag.

“Jy kan in enige straat stop, en iemand kan jou ’n huis wys waar die honde vergiftig is, en waarby daar heel waarskynlik ingebreek is,” sê ’n inwoner.

Huma en Hannes du Buisson, voorsitter van die groep Centurion Concerned Citizens, sê verskeie voorvalle van honde wat oor Centurion heen vergiftig is, is by hulle ook aangemeld.

“Dinsdagaand het ons minstens twee voorvalle in The Reeds gehad,” sê Du Buisson.

Mike Bolhuis, ’n privaat ondersoeker, sê daar is ’n duidelike verband tussen huisbrake en die vergiftiging van honde.

Bolhuis sê in ’n verklaring rowers identifiseer eers sekere woonbuurte waarop hulle wil toeslaan.

Honde hou volgens hom die grootste bedreiging vir die rowers in, omdat hulle hul eienaars oor “ongewone aktiwiteite” deur ’n geblaf waarsku.

Honde word dan kos met gif soos aldikarb, oftewel Temic, ook bekend as “Two Step” gevoer.

Inbrake volg ’n paar dae later.

Bolhuis sê dié landbougifstof word onwettig by sekere taxistaanplekke verkoop.

“Die huidige markwaarde van die dodelike gif is sowat R20 per gram. Dié klein hoeveelheid kan vyf honde doodmaak.”

Du Buisson en Bolhuis raai inwoners aan om hul honde sover moontlik eerder agter in die erf aan te hou of in die huis.

“Inspekteer jou erf deeglik voordat jy jou hond weer aan die voorkant toelaat. Moenie met kaal hande aan enige vleis, kos of enigiets verdag wat jy in jou erf vind, vat nie,” sê Du Buisson.

Die vergiftiging moet by die polisie en jou naaste veearts aangemeld word.

Meer oor:  Gauteng  |  Centurion  |  Honde  |  Vergiftiging  |  Deurbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.