Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Didiza woedend oor plaasaanvalle en veediefstal

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is woedend oor die hoë voorkoms van veediefstal en plaasaanvalle in die feestyd.

Die verlies van vee het volgens haar nie net ’n impak op diegene wie se vee dit is nie, maar op die hele veebedryf.

Didiza het Sondag in ’n verklaring gesê die veediefstalle het plaasgevind terwyl die bedryf gebuk gaan onder bek-en-klouseer in Limpopo. Dit het ’n negatiewe impak op die provinsiale en nasionale ekonomie gehad. Boere word ook voortdurend deur die droogte geraak.

Sy is verheug oor die vinnige optrede van die polisie wat van die skuldiges vasgetrek het.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is woedend oor die hoë voorkoms van veediefstal en plaasaanvalle in die feestyd. Foto: Deon Raath

“Ek glo die polisie se optrede bevestig die verbintenis wat Bheki Cele, minister van polisie, gemaak het met die bekendstelling van die landelike veiligheidstrategie,” lui die verklaring.

Didiza het mense versoek om nie vleis te koop by ongereguleerde handelaars nie.

“Dit sal nie net die mark vir veediefstal kleiner maak nie, maar ook hul gesondheid beskerm omdat sulke produkte nie vir menslike gebruik gesertifiseer is nie.”

Syfers uit die misdaadstatistieke wat in September deur die polisie bekend gestel is, toon dat veediefstal in Suid-Afrika met 2,9% oftewel 30 000 diere tussen April 2018 en Maart 2019 gestyg het. Beeste is hoofsaaklik geteiken gevolg deur skape, bokke en perde.

In dieselfde tydperk was daar 47 plaasmoorde in die land.

Ek vertrou die wetstoepassingsagentskappe sal voortgaan om te doen wat ook al nodig is om die verantwoordelikes agter tralies te kry.
Thoko Didiza

Didiza het ook haar meegevoel betuig met die families wat geliefdes verloor het in aanvalle op boere en hul werkers. “Ek vertrou die wetstoepassingsagentskappe sal voortgaan om te doen wat ook al nodig is om die verantwoordelikes agter tralies te kry.”

’n Bejaarde egpaar, Gert (81) en Joey (75) Pienaar van Dewetsdorp, is verlede Maandag in die vroeë oggendure deur ses aanvallers in hul slaapkamer op hul plaas oorval. Hulle is met ’n glasbottel en geweerkolf oor die kop geslaan, met ’n mes gesteek en vasgebind. Joey het haar later losgewikkel en gaan hulp soek. Die aanvallers het twee vuurwapens, ’n kleinkalibergeweer, beursie en selfoon gebuit voordat hulle weggehardloop het.

’n 71-jarige veeboer van Harding  in KwaZulu-Natal het op Kersdag sowat 19 km ver gery om te gaan hulp soek nadat hy met ’n slagtersmes op sy plaas aangeval is. Die voorval omstreeks 15:00 was kort nadat sy twee seuns en hul gesinne vertrek het nadat hulle by hom op die plaas gaan kuier het.

’n Onbekende man het by die huis ingekom. ’n Stoeiery het gevolg en die boer verskeie kere gesteek. In ’n desperate poging om van sy aanvaller weg te kom, het hy in die swembad geduik. Sy aanvaller wat hom agterna gesit het, het in die water gespartel. Só kon boer uit die swembad kom en met sy bakkie na ’n naburige plaas ry om te gaan hulp soek.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Veediefstal  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.